GEORGE NUUS - Eagle Kidz van Eagle's Nest Ministries in Pacaltsdorp het Sondag 'n Sop en Sokkie-uitreik in die informele nedersetting van Rosedale gehou. Ongeveer 40 kinders het vir 300 kinders 'n koppie warm sop en 'n paar sokkies gegee.
Eagle Kidz is 'n Christen-leierskapsontwikkelingsprogram vir kinders van 4 tot 18 jaar oud wat daarop fokus om diensbare leiers te kweek.
"Ons glo dat ons ons kinders moet leer dat hulle die vermoë het om 'n bydrae tot die ontwikkeling van ons land te lewer en een uitreik per kwartaal in 'n behoeftige gemeenskap of organisasie vorm deel van die program," sê Beverley Mckelly, 'n gemeentelid wat betrokke is by die program.
"Die behoeftes van ons gemeenskap is egter so groot. Een uitreik per kwartaal verander nie die situasie van diegene wat in armoede vasgevang is nie. Die Spark a Star-projek is dus in Februarie vanjaar van stapel gestuur as 'n deurlopende inisiatief om kinders te ondersteun met kospakkies, skryfbehoeftes, toiletware en ouderondersteuningskursusse.
Almal het saam gebid.
"Daar is soveel kinders wat in armoede gebore is sonder dat hulle gevra het, en heel moontlik in armoede gaan bly en hul kinders in armoede gaan grootmaak.
"Met Spark a Star glo ons ons kan die kindersterre in ons gemeenskappe inspireer en ondersteun om deur hul omstandighede te breek en die vonkelende sterre te wees wat hulle gebore was om te wees," sê Mckelly.
Die kleingoed staan nader vir 'n warm koppie sop en toebroodjie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'