Sandra se verhaal van hoe 'n dekade uit haar gesin se lewens gegryp is weens haar seun Kelly se dwelmverslaafdheid het haar gehoor aangegryp. Sy het opgetree ten bate van Pasa (People Against Substance Abuse), 'n plaaslike organisasie wat fokus op die jeug.
"Dit was 4x4 extreme," het Sandra haar ondervinding probeer beskryf.
Kelly, nou 25, het op skool presteer en was onder meer kaptein van sy rugbyspan, maar weens dwelmmisbruik is hy in graad 10 uit Hoërskool Outeniqua geskors. 'n Bittere pad het voorgelê vir die hele gesin. Sandra het vertel haar seun sou op 'n Vrydag met sy rugsak ver-dwyn. "Dan het ons hom dalk weer die Maandag gesien." Hy het op straat geslaap, onder meer by die Dros, en gebedel om geld in die hande te kry vir dwelms, dikwels by mense wat sy ouers ken. "Die skande was verskriklik. Mense het geweet wie hy is en ons ander twee seuns is ook gebrandmerk as gevolg daarvan. Maats het nie meer kom kuier nie," het Sandra vertel.
Sandra en Nico het Kelly laat arresteer omdat hy gewelddadig begin raak het, soveel so dat Sandra haarself saam met haar twee jonger spruite in 'n kamer sou toesluit. Kelly is tot 'n jaar by Noupoort gevonnis, maar weens insidente daar, is Sandra en Nico Carte Blanche toe om dit aan die lig te bring. Hulle storie is in 2006 gebeeldsend. Kelly was by verskeie rehabilitasiesentrums, maar het uiteindelik weggeloop. Sandra het vertel van hulle stryd om hom op te spoor en hoe hulle 'n lasbrief bekom het en saam met polisie in Kaapstad haar "blouoog kind" se besittings, in 'n klein sakkie iewers in 'n agterkamer gekry het.
Hy is drie dae later gevind. Kelly se stryd teen dwelms is wonderbaarlik beëindig eers nadat sy hom in gebed "aan die Here op 'n altaar oorgegee het". Hy tree nou self op om met jongmense oor sy ervaring te praat. Vanuit dieselfde agtergrond kan Wayne Windvoël en Freddy Trout, twee broers wat Pasa in 2006 gestig het, kinders inlig en leiding gee. Hulle was albei vasgevang in dwelms vir onderskeidelik agt en tien jaar voordat hulle lewens omgekeer is. Pasa bied onder meer die Bound-program by skole aan wat kinders leer om op hulle drome en doel in die lewe te fokus. "Ons beklemtoon hoe alkohol en dwelms 'n jong mens fisies, geestelik en emosioneel bankrot kan maak. Die kinders word geleer om verstandige, slim keuses te maak en standpunt in te neem," het Freddy verduidelik.
Pasa bied ook inligtingsessies vir ouers aan en versprei aktief inligting oor dwelmmisbruik. Hulle het die afgelope jaar sowat 12 000 kinders in meer as 30 skole aan die Tuinroete bereik.
Gaste het 'n heerlike ontbyt geniet en elkeen het met 'n geskenk weggestap wat moontlik gemaak is deur vrygewige borge.
Ursula Colby se sang en kwinkslae het direk tot haar vroulike gehoor se harte gespreek en Thanda Jesu van Wildernishoogte se kinders het die vroue verras met hul kreatiewe skeppings van afvalmateriaal wat hulle vertoon het.
Pasa is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie. Persone wat hulle met borgskappe wil ondersteun, kan Freddy bel by 071 090 4450 of Wayne by 071 003 8040.
Die seremoniemeester, Bianca Serfontein (links) saam met, van links: Ursula Colby wat sangnommers gelewer het, Annette de la Rey en Maxie van Wyk.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'