Gallery
GEORGE NUUS - 'n Aand van gedeelde vreugde, musiek, woorde en beweging. 'n Aand wat weereens bewys dat hulle wat musiek, woorde en beweging verstaan en deel, almal om dieselfde vuur sit. Om dieselfde vuur was 'n gesamentlike produksie deur Hoërskool Outeniqua se dansdepartement en The Dance Academies Studio-groep (ODA), die skool se dansvennoot.
Die drie vertonings oor die naweek is entoesiasties ondersteun en die gehoor het hulself passievol by die vertoning ingeleef en die dansers deurentyd geesdriftig aangemoedig. Die dansers was oorwegend leerders vanuit verskillende skole in George vir wie dans deel van hul kurrikulum is of wat dans as buitemuurse aktiwiteit neem.
Dit was egter opvallend hoeveel volwassenes ook deelgeneem het, veral in die flamenco-dansitems.
Die kontemporêre dansitems het mens tot nadenke gestem en veral die item, A-Vuke, deur gaskunstenaars van Hoërskool George se dansdepartement, het geboei met hul uitbeelding van die stryd om vryheid. Aan die ander kant is die opruiende 'street'-dansnommers uiters positief deur die gehoor ontvang. In die ambisieuse item Clap Song, met outentieke 60's choreografie, het manlike dansers hul maats opgetel, geswaai en oor die rug getol soos dansers wat dit al jare lank doen.
En waar kry jy 'n lekkerder popliedjie vir 'n gehoor wie se voete alreeds jeuk as Kenny Loggins se Footloose? Die choreografie - meestal oorspronklik en spesiaal deur die akademie se instrukteurs gedoen vir die produksie - het reg laat geskied aan verskeie genres, insluitende swing, 'street' dance, baldans en Latyns Amerikaans, kontemporêr, salsa, 'musical theatre' en flamenco.
In die Cha-Cha/Street item 'A little party', kan die volgende dansers gesien word. Voor, van links: Bevan Wright en Jana Lottering, Divan Nortjé en Mikaela van Rensburg, Willem Wannenburg en Emeth Steyn. Agter: Rico Strauss en Suné Swart en Amoré Reynecke.
Die flamenco-dansitems veral het getuig van kundige afrigting. Wehan van Jaarsveld, direkteur van die akademie, sê hulle is baie bevoorreg om te kan saamwerk met gaskunstenaars soos Rosana Maya, 'n internasionaal erkende naam in flamenco-dans.
Maya het die gehoor geboei met die intensiteit van haar Tientos-solo en daarna met haar kastanjette feestelikheid verleen aan die Sevillanas-groepnommer.
Die gaskunstenaars het inderdaad gesorg vir hoogtepunte van die konsert. Benewens Maya het ook George se eie danser en choreograaf William Constable (bekend vir sy deelname aan So you think you can dance) en Lynette Petersen met haar besondere kabaret-stem en vernuf as pianiste oorspronklike bydraes gelewer.
Dansers van die Outeniqua Dansakademie se Kontemporêre dans fakulteit, van links: Zuande Niemand, Hannah Loubser, Emeth Steyn, Mikaela van Rensburg, Kiara van Rensburg, Glenvor Pretorius, Ian Grobler, Morné Reynecke, Willem Wannenburg, Caylin Murray, Mia Fourie, Nikita Vallejo en Doney Niemand.
In die hierdie dansakademie se studios word daar moeite gedoen om elke danser se selfvertroue te ontwikkel en hul nis te help vind. Die passie waarmee die deelnemers hulself in die dans uitleef was werklik opvallend en het benadruk dat die akademie inderdaad reg laat geskied aan hul leuse: "It's about more than just the steps".
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'