GEORGE NUUS - Daar is lig in die tonnel. Die pawiljoen by die Pacaltsdorp-stadion het uiteindelik 'n nuwe dak.
As alles volgens plan verloop sal die pawiljoen voor die amptelike begin van die klubrugbyseisoen gereed wees vir toeskouers om te gebruik.
Toe George Herald Maandag 27 Januarie die stadion besoek het, was kontrakteurs druk besig om die finale werk af te handel.
Die probleme by die stadion kom al 'n lang pad en het tot groot frustrasie vir rugby en veral Evergreens-ondersteuners gelei. Evergreens gebruik dit as 'n tuisveld en die klub het al geld verloor as gevolg van die situasie.
In 'n stadium is die pawiljoen gesluit as gevolg van veiligheidsoorwegings.
Die plan was om die nuwe dak al in Oktober 2023 gereed te hê, maar dit moes uitgestel word. Marchell Kleynhans, George-stadsraadslid vir wyk 27, het Maandag die stadion besoek.
"Die dak is nou ten minste op," het hy gesê.
Hy het bygevoeg: "Dis jammer dat dit so lank geneem het. Daar was egter sekere goedkeuring van ingenieurs wat moes plaasvind. Dit was beter om die regte prosedures te volg. Ons doen alles in ons vermoë om dit gereed te kry voor die begin van die rugbyseisoen."
Volgens hom is dit nie net die dak wat aandag kry nie, daar is ook klein verstellings aan die veld en die opgradering van die kleedkamers.
Hy het gesê die stadion is baie belangrik vir die gemeenskap. Daar is verskeie sportkodes soos rugby, krieket en sokker wat die stadion benut.
Brendon Adams, burgemeesters-komiteelid vir sport van die George-stadsraad, het Dinsdag gesê as die weer dit toelaat is die plan om alles gereed te hê vir die rugbyseisoen.
Die kontrakteurs is agter met skedule, maar hulle sal opvang. "Die mense moet geduldig wees want ons neem hul veiligheid in aanmerking."
Dis nie net Pacaltsdorp-sportstadion wat aandag kry nie. 'n Aantal staalpawiljoene is onlangs by Touwsranten afgelewer. Op elkeen is plek vir sowat 36 toeskouers.
Die plan is om ook ander sportstadions onder die munisipaliteit se beheer op te gradeer.
Die waterdreineringstelsel by Parkdene-sportterrein is reeds opgegradeer.
Volgens hom sal die dak by die Rosemoor-sportstadion ook binnekort vervang moet word.
Vorige artikels: