Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Evergreens-rugbyklub wil hê die herstel van die pawiljoen by die Pacaltsdorp-stadion moet op die spits gedryf word. Dit sloer nou al meer as sewe maande.
'n Wedstryd tussen Evergreens en Crusaders was aanvanklik vir Saterdag 3 September 2022, by die stadion geskeduleer.
Evergreens het egter twee dae voor dié wedstryd sou plaasvind, 'n brief van George-munisipaliteit ontvang waarin die pawiljoen by die sportterrein onveilig verklaar is.
Saterdag twee weke terug het Evergreens se spanne teen Heidelberg by die stadion opgedraf en steeds kon die pawiljoen nie gebruik word nie.
Kobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het Saterdag 22 April kort voor die eerste wedstryde gespeel is aan George Herald gesê daar is mense wat dink dat die dak net as verskoning gebruik is dat die wedstryd nie verlede jaar daar kon plaasvind nie. Evergreens speel sy tuiswedstryde daar.
Die situasie kom eintlik al 'n lang pad.
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, en Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het in 2021 in Covid-tyd self die stadion besoek. Hulle het onderneem om te kyk na alle moontlike kanale vir fondse vir die herstelwerk.
In Augustus verlede jaar is Evergreens deur die munisipaliteit ingelig dat R1 miljoen opsygesit is.
Die beskadigde dak by die Pacaltsdorp-sportstadion.
Die dak sou glo reg wees vir wedstryde in die nuwe jaar. Dit het Evergreens hoop gegee.
In Februarie vanjaar het Carelse met Brendan Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport vergader. "Ons is toe ingelig dat dit in Junie reg sal wees."
Carelse het gesê dit wat nou gebeur, is onaanvaarbaar. "Rugby is deel van ons gemeenskappe.
"Dit het 'n samehorigheidsaspek. Dis waar families bymekaarkom. Dit gaan oor meer as net rugby."
Op die oomblik kan toeskouers nie op die pawiljoen sit nie en moet rondom die veld staan. Evergreens verloor toeskouers en ook geld.
VIDEO: Nog steeds nie duidelikheid oor pawiljoen
Die beskadigde pawiljoen by die Pacaltsdorp-sportstadion.
Carelse het benadruk dat Evergreens nie in 'n geveg met die munisipaliteit betrokke wil raak nie. "Ons wil net die situasie oplos. Ons doen 'n beroep op die munisipaliteit om dit op die spits te dryf."
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê tenders is in Februarie ontvang vir die vervanging van die dakstruktuur en tenders word tans geëvalueer.
Die beplanning is om die dakstruktuur te vervang, aangesien die skade van so 'n aard is dat dit nie haalbaar is om die dak te herstel nie.
Beskikbare begroting speel 'n rol en die nodige fondse moes beskikbaar gestel word.
Die munisipaliteit is in die proses om die tenders te evalueer en aan te stel. Dit sal hopelik binne die volgende maand geskied. Die evaluering van tenders neem tyd omdat bepaalde prosesse gevolg moet word wat verband hou met verkryging en die evaluering van die funksionaliteit.
Na die sluiting van die tenders is gevind dat die aanvanklike begroting nie voldoende was nie en moes daar voorsiening gemaak word om die totale projek te kan dek.
Bestuurslede van Evergreens het hulle misnoë uitgespreek. Selwyn Abrahams (trustee), Kobie Carelse (voorsitter) en Clarion Stoffels (sekretaris). Foto's: Eugene Gunning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’