Update
GEORGE NUUS - Die Tuinroete-cliviaklub kon weens die Covid-inperking die afgelope twee jaar geen skoue hou nie en is opgewonde dat die gebruiklike twee skoue weer vanjaar aangebied kan word.
Clivias is inheems aan Suid-Afrika, floreer in koelte en het min water nodig.
Die meeste tuiniers is waarskynlik bekend met clivia miniata met sy oop oranje blomme (boslelie). Baie kleure miniatas is gekweek - donker rooi, perske, pienk, geel, appelkoos, groen en gemengde kleure.
Die ander lede van die cliviafamilie (gardenii, robusta, caulescens, mirabillis, nobilis) het almal klokkie tipe blomme teenoor miniata se oop blomme wat na bo wys. Hierdie clivias blom op verskillende tye van die jaar en jy kan vir meer as 10 maande van die jaar cliviablomme in jou tuin hê.
Die verskillende spesies word die afgelope 20+ jaar kruisbestuif (interspesie) met uitstaande resultate.
Die Tuinroete-cliviaklub bied Saterdag 6 Augustus van 09:00 tot 13:00 by die George Garden Centre (voorheen George Kwekery/Plantjie Kwekery) 'n skou aan waar klokkie tipe clivias uitgestal word tesame met breëblaar-tipes.
Toegang is gratis. Lede van die cliviaklub gaan ook clivia plante, -saailinge en -saad teen billike pryse te koop aanbied. Kom gesels gerus met die klublede indien jy vrae het oor clivias en/of die kweking daarvan. Lede van die publiek is ook welkom om by die klub aan te sluit.
Kontak Karl Rost, die voorsitter by 082 887 4429 vir navrae en hou die klub se Facebook-blad dop vir meer detail.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'