Dit was een van die insigte waar toe die span van George-toerisme gekom het die afgelope naweek by die Cape Gateway Skou op die Lourensford Wynlandgoed in Somerset-Wes. Onder andere gastehuiseienaars word aangemoedig om hulle verblyf te kombineer met toerisme aktiwiteite in die omgewing en nie bloot net hulle akkommodasie alleenstaande te bemark nie.
Claudine Carelse, waarnemende toerismebestuurder van George-munisipaliteit sê produkverskaffers kan gerus hul toerismeproduk op aantreklike maniere met ander dienste bondel om drie- en vyfdag pakkette aan te bied. "Die grootste getal besoekers aan George reis tans in pare van twee en bly slegs een aand oor. Die ideaal is dat elkeen wat verblyf soek, terselfdertyd ook ingelig word oor pakkette wat hulle vir meer aande in George sal laat kuier."
Bywoning
George-toerisme het vanjaar Uniondale en George saam met die Route 62-uitstalling by die Cape Getaway Skou bemark. Die Getaway Skou is vanjaar deur meer as 15 000 mense besoek.
George-toerisme het nie vanjaar die Indaba in Durban saam met Eden-distriksmunisipa-liteit en Wesgro bygewoon nie. "Daar word beperkte voorsiening gemaak om George se unieke aantreklikhede bekend te stel. Dit is vandaar dat ons besluit het om eerder by Cape Getaway uit te stal, aangesien dit ons toerisme-amptenare van aangesig tot aangesig met die verbruikers bring," sê Carelse.
Bemarkingsmengsel
George-burgemeester, Charles Standers, sê hy is ernstig oor die hersiening van George se bemarkingsmengsel. "George is die stad vir alle redes en daarom ontbondel ons hierdie redes en bemark dit in 'n veranderende markplek aan verbruikers met uiteenlopende belangstellings." Met die fokus op gemeenskapstoe-risme, was die skouspan vanjaar op die uitkyk vir diensverskaffers met wie George-toerisme strategies kan saamwerk om plaaslike toerisme te ontwikkel.
George-toerisme se Cape Getaway skouspan het inligtingspamflette, asook produkte vanaf Uniondale en George, as trekpleister gebruik en sowat 400 nuwe verbruikersname is by die e-poslys gevoeg.
Vennootskappe
Die span is opgewonde oor hul samesprekings met TEP (Tourism Enterprise Partnership). TEP ondersteun vennootskappe tussen plaaslike toerisme-assosiasies en munisipaliteite om so-doende gemeenskapstoerisme uit te bou. Hul navorsing toon dat buitelandse besoekers 'n eerste besoek aan Suid-Afrika bring om die land te sien, maar vanaf die tweede besoek kom hulle om die mense van die land en hul kultuur te leer ken.
"Die nuwe Toerisme-inligtingsentrums wat binnekort in Uniondale, Thembalethu, Pacaltsdorp oopmaak, pas baie goed in by TEP se inisiatiewe," sê Carelse. Vergaderings met toerisme-produkverskaffers in Pacaltsdorp en Thembalethu, lê volgens haar reeds die basis om die nuwe kantore as sentra vir die ontwikkeling van gemeenskapstoerisme aan te wend.
Verskaffers in die bedryf kan met Claudine Carelse by wilderness@george.org.za kontak maak om nuwe produksamestel-lings vir toeriste te bespreek.

Claudine Carelse (links), waarnemende toerismebestuurder van George-munisipaliteit gesels met besoekers by die Cape Getaway Skou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'