Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ofskoon George-burgemeester, Leon van Wyk, Dinsdag 26 Januarie 'n persoonlike mylpaal bereik het, toe hy 65 jaar oud geword het, was daar nie tyd vir partytjie hou nie. En van aftree was daar nie sprake nie.
Hy was druk besig om aandag te gee aan die talle uitdagings waarmee George in hierdie dae te doen kry. Hy het tyd ingeruim om met George Herald oor die pad vorentoe te praat en die uitdagings wat wag.
Van Wyk is agt maande gelede tot die amp as burgemeester verkies.
So tussendeur het hy gespot dat hy nie eers op die dag, as gevolg van die inperkingsregulasies, op die strand kan gaan stap nie. Hy en sy vrou Gail, het darem tyd gehad om later die dag net rustig tuis te ontspan.
Oor een ding het hy geen twyfel: "Ek het geen planne om uit te tree of af te tree nie. Ek is nog gesond en geniet die werk."
Tussendeur al die gelukwensings was George se uitdagings ernstig op sy gemoed. By dit alles is daar nog die beplanning van die munisipale verkiesing wat veronderstel is om later vanjaar plaas te vind.
Volgens Van Wyk daar moet geen illusies wees nie. George het talle uitdagings en Covid-19 het dit nie makliker gemaak nie.
Toe hy burgemeester geword het, het hy besef dit gaan moeilik wees, maar hy is nie spyt dat hy die pos aanvaar het nie. Een van sy doelstellings was en is om te kyk hoe die potensiaal, en veral die ekonomie van George en die Tuinroete, uitgebou kan word. Om die ekonomie te laat groei en werk te skep, bly 'n uitdaging.
Een van die kompleksiteite waarmee hy te doen kry is die wanadministrasie van die verlede. Dit het 'n invloed op dienslewering gehad. "Die publiek verstaan nie altyd hoe werk plaaslike regering en munisipaliteite nie."
Kyk 'n video hieronder:
Hy glo die onlangse aanstelling van dr. Michelle Gratz as waarnemende munisipale bestuurder, sal van groot waarde vir George wees.
Die instandhouding van bestaande infrastruktuur en die vestiging van nuwe infrastruktuur is nog 'n groot uitdaging. Dit kos geld.
Covid-19 het die situasie vererger en dit plaas verdere druk op munisipale finansies. Dit is nie net sakeondernemings wat sukkel nie, maar ook inwoners wat hul verpligtinge moet nakom. Die munisipaliteit het ook verpligtinge teenoor mense en instansies wat hy moet betaal.
Nieteenstaande al die uitdagings is hy vol moed dat die knoop deurgehaak sal word en hy sien uit na sy nuwe lewensjaar.
Leon van Wyk, George mayor, turnend 65 years on Tuesday (26 January). There was no time for celebrations as he had to deal with the several challenges the city faces. Although he is 65 years old, he has no plans to retire. He enjoys the job and is still healthy. He is looking forward to the next year in his life.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'