Update
GEORGE NUUS - Blacky, die uitgeteerde hond wat onlangs deur Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) van sy huis in Oudtshoorn verwyder is, is ontslaan en word tans by Tantivvy in George gehuisves.
Volgens Marlene Mennie, 'n vrywilliger van Odin, is hy met borsluiskoors gediagnoseer en is tans op 'n 28 dae-behandeling waarna hy weer getoets gaan word.
"Dit gaan definitief beter met hom, maar hy is uiters swak. Die skut is nie 'n plek vir hom om te rehabiliteer nie."
Sy sê dat hulle tydelike verblyf vir Blacky soek waar hy 'n warm bed en baie liefde sal kry.
"Hy kort 'n veilige plek om gesond te word. Dit moet ook verkieslik by mense wees wat naby die veearts woon, omdat hy enige tyd kan terugval en sieker word."
Colleen Smith, stigter van Odin, het die week aan Oudtshoorn Courant vertel dat sy intussen terug is na die huis waar Blacky aangehou is.
"Daar is nog twee veghonde. Hulle is definitief ondervoed, maar het die mooiste geaardhede, want hulle word nie aan kettings vasgemaak nie. Die eienaar probeer, maar is beslis onkundig. Ek het 'n baie lang gesprek met hom gehad. Om 'n klag teen hom te lê is nie 'n uitweg nie. Ons het besluit om eerder te help met opvoeding. Ons wil hom graag help om regte omheining vir sy honde te kry en 'n hek. Hy gaan ook beter kos vir die honde gee, waarmee ons ook sal help, maar in ruil daarvoor gaan hy by die kennels werk en skoonmaak. Ons is nie van plan om als vir hom verniet te gee nie. Op die manier kan ons hom ook leer om beter na sy diere om te sien. Ek het dit egter baie duidelik gemaak dat Blacky nie teruggaan nie. Ons sal ook seker maak dat hy nie nuwe honde kry nie."
Volgens haar is die groot probleem om veghonde na nuwe huise oor te plaas. Dit is deel van die rede waarom hulle nie die ander twee honde verwyder nie.
"Ons kan nie net links en regs honde wegvat en verwag dat die honde huise moet kry nie. Van die honde is eenvoudig te aggressief en weens die stigma rondom 'n veghond wil mense nie sommer een aanneem nie. Dit beteken dat hulle net uitgesit word. Ons probeer dus daar waar veghonde is eienaars opvoed oor beter lewensomstandighede vir die honde en ook hoe om beter na hulle te kyk sodat hulle nie groot word as aggressiewe mensvreters nie."
Indien enigiemand Blacky wil help, of omheining vir die ander honde wil skenk, kan hulle Odin by 072 084 1374 kontak.
Vorige artikel: Blacky soek tydelik huis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’