GEORGE NUUS - Die Malteser-reun met die erg gekoekte hare, wat in September na die Tuinroete DBV geneem is, het 'n nuwe tuiste gekry.
Benji is op 9 Oktober deur Lettie Squire-Christie van George aangeneem. Hy kan nou uitsien na 'n lewe vol liefde, omgee en minder gekoekte hare.
"Sedert ek sy storie in die George Herald gelees het, kon ek hom nie uit my hart kry nie. Ek het geweet ek moet hom gaan haal," vertel Squire-Christie. "Ek wil net baie dankie sê aan die persoon wat vir Benji DBV toe gevat het. Ek is oneindig dankbaar vir jou."
Volgens die DBV se bestuurder, Salomé Bruyns, was Benji een van die ergste gevalle van verwaarlosing wat sy in haar lewe nog teëgekom het.
Benji is op 6 September deur 'n inwoner van Borcherds opgetel en na die DBV geneem. Die DBV se aannemingsbeampte, Dawn Meyer, het vir Christo Welman, eienaar van Urban Dog Grooming, om hulp genader.
"Hy het sonder huiwering sy hulp aangebied en dieselfde aand die hond gebad en geskeer. Die hond se hare was so erg gekoek en aanmekaar gekleef, dat ons nie kon onderskei watter kant voor en watter kant agter was nie. Dit het byna drie ure geneem om hom weer soos 'n hond te laat lyk. Hy was definitief een van die ergste gevalle wat ons nog ooit gesien het," het Bruyns gesê.
Benji lyk weer soos 'n hond.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'