GEORGE NUUS - In ‘n gesamentlike poging om plantmateriaal in die Tuinroete Dam se opvangsgebied skoon te maak, sal ‘n beheerde brand plaasvind so gou as wat die weer daarvoor geskik is.
George Munisipaliteit se Brandweerhoof, Neels Barnard het gesê die beplande brand is daarop gemik om die water-afloop na die dam te versnel wanneer dit reën, wat nog een van die munisipaliteit se maatreëls is om watersekuriteit te verbeter.
“Hoe minder plantegroei water opneem, of in die pad van die natuurlike watervloei is, hoe meer water kan in die dam opgeneem word.”
Die nuutste Tuinroetedamvlak-lesing is 42.5%.
Mnr Barnard het gesê die beplande brand sal slegs plaasvind indien die perfekte weersomstandighede daarvoor bestaan, wat beteken dat daar genoeg tyd sal moet wees vir plantegroei in die korrekte gebied om genoegsaam te brand, maar opgevolg kan word met genoegsame reën om seker te maak al die vure word geblus.
“Die weer het sover nog nie saamgespeel nie, maar ons is reg om aksie te neem sodra die weer in ons guns is,” het Mnr Barnard gesê.
Die beplande beheerde brand sal deur George en Eden Distrik Munisipaliteite bestuur word met die bystand van CapeNature en die Fire Protection Association.
Die Work on Fire-helikopter sal ook op bystand wees vir die brandtydperk.
Die bepaalde gebied, geleë in ‘n area wat as Geelhoogte bekendstaan, en noord-oos en oos van die Tuinroete Dam is, sal in blokke verdeel word en blok-vir-blok onder streng beheerde omstandighede gebrand word onder die toesig van brandbestryders van al vier beheerbranddeelnemers.
Nuutste waterstatistieke. Verskaf deur George-munisipaliteit
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'