Die ‘Alison Room’, soos die kamer bekend staan, is tans onder die bekwame sorg van Shirley van Kerken, ‘n nuweling in George. Van Kerken was vir jare deel van Krugersdorp se Slagoffer-bemagtigingsprogram, waar sy waardevolle kennis opgedoen het. Saam met haar aan diens is Eviline Opperman wat as vrywilliger help met die berading van getraumatiseerde persone.
Opperman was self vir jare ‘n slagoffer van gesinsgeweld en het juis daarom soveel deernis vir vroue en kinders wat dieselfde paadjie stap.
"Dit is my grootste wens om vroue te bemagtig en te help om weer op te staan nadat die lewe hulle plat gedruk het," vertel sy.
Die traumakamer benodig dringend nog gekwalifiseerde vrywilligers, soos sielkundiges en traumabe-raders, om op ‘n vrywillige basis betrokke te raak by hierdie diens van die polisie.
Finansiële ondersteuning vir lopende uitgawes soos taxigeld en lugtyd vir selfone sal baie help. Borge word ook dringend benodig vir die maak van uitkenbare t-hemde en baadjies vir die beraders, sowel as uithangborde vir die maklike identifisering van die traumakamer.
Verder ontbreek die traumakamer aan warmte en essensiële toebehore. Van Kerken het die volgende lys gemaak van items wat ‘n merkwaardige verskil sal maak:
Wenslys
Rekenaar en drukker, fotostaatmasjien, skryfbehoeftes, yskas met vrieshokkie (moet kan sluit), koffiemasjien, mikrogolfoond, tuintafel en -stoele, plante en ‘n waterfokuspunt, radio, geiser, verf vir mure, kruideniers-ware (tee, koffie, melk, suiker, gevriesde etes, sap, lekkertjies), skoonmaakmiddels, toiletware (toiletpapier, seep, toiletsproei), pakkies met ‘n tandeborsel, tandepasta, waslappie, sneesdoekies, weggooibare doeke en eerstehulptassie.
Vir meer inligting oor die traumakamer, kontak vir Shirley by 074 102 7767 of Eviline by 076 470 3661.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Die poppies op die bed is die enigste teken van warmte in die slaapkamer.