SUID-KAAP NUUS - Aifa, die vliegskool op Oudtshoorn, se hulp is weer op 12 Mei ingespan om te help met 'n dringende wildprojek.
Volgens dr. Willem Burger, veearts van Oudtshoorn, moes die satelietnekband van 'n jagluiperdwyfie op Sanbona, een van die grootste wildplase in die Wes-Kaap, dringend vervang word.
"Die battery se leeftyd is verby en dus kon Sanbona haar nie maklik opspoor nie weens die grootte van die reservaat wat oor 60 000 ha strek. Hulle het haar toevallig gesien en die nekband moes so spoedig moontlik vervang word voordat sy weer verdwyn," het Burger gesê.
Aangesien tyd belangrik was het Aifa, soos met vorige gevalle, ingestem om Burger na Sanbona te laat vlieg.
Kort na die landing is die jagluiperd opgemerk, deur Burger met 'n pyl verdoof, die halsband is vervang en voor sononder was die jagluiperd weer vort en opspoorbaar.
Volgens Burger is jagluiperds 'n hoogs-bedreigde spesie en is Sanbona een van die min plekke in die land waar hulle nog vrylik kan rondloop en hulle eie prooi vang.
Sanbona is tussen Barrydale en Touwsrivier geleë.
Aifa, met opleidingsentrums in Oudtshoorn, George en Beaufort-Wes het reeds by verskeie geleenthede op kort kennisgewing vlugplanne ingedien om Burger in staat te stel om so gou as moontlik op plekke te kom waar wilde diere aandag benodig.
Volgens burger doen Aifa dit as deel van hulle verbintenis tot bewaring.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'