Update
GEORGE NUUS - Die hoofbestuurder van Linda's Bed & Breakfast, Fredré van der Merwe, het Saterdagaand 1 September net voor 18:00 op die R102 gesterf nadat die motorfiets waarop sy 'n passasier was, met 'n motor gebots het.
Die 46-jarige Van der Merwe het saam met haar verloofde, Johan Stander, gery. Beide die motor en motorfiets was in die rigting na George onderweg toe die botsing naby die ingang van die nuwe skietbaan plaasgevind het. Stander is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.
'n Baie emosionele Melinda Niehaus, eienaar van die gastehuis, het gesê Van der Merwe was 'n ware staatmaker. "Sy het vir vyf jaar by my gewerk. Sy was 'n persoon wat kon multi-task, beheer neem, en krisissituasies hanteer. Sy was administratief ook baie sterk. Ek het nie net 'n vriendin verloor nie; vir die besigheid is dit 'n enorme verlies."
Volgens Niehaus het Van der Merwe van Johannesburg af getrek en by haar begin werk.
Sy en Stander het in 2016 verloof geraak.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Saterdag gesê die motorfiets het van agter af in 'n voertuig vasgery. Van der Merwe is op die toneel dood verklaar. "'n Saak van strafbare manslag word ondersoek."
Die polisie het nie gereageer op verdere navrae oor die oorsaak van die ongeluk nie. Mense het op Facebook gespekuleer oor wat die ongeluk veroorsaak het.
Op Linda's Bed & Breakfast se Facebook-blad, was daar 'n huldeblyk: "Op 1 September 2018 het Linda's B&B een van hulle yster werknemers verloor in 'n tragiese ongeluk: Fredré van der Merwe, jou stem is stil, jou plek is leeg. Dit is nog so onwerklik. Ons gaan jou vreeslik baie mis. Dat jy nou op so ’n manier moes gaan. Ons harte is in tienduisend stukkies. Sterkte aan jou familie en vriende. Johan (haar verloofde), ons bid dat God jou aanraak vir spoedige genesing en ook dat Hy jou sal vertroos en dra in hierdie moeilike tyd."
Nooddienste personeel en verkeer op die ongelukstoneel op die R102.
Die motor waarteen die motorfiets gebot het.
Van der Merwe het 'n broer, Stefan Edwards en suster, Hester Edwards wat in Gauteng woon.
Geen begrafnisreëlings was voor saktyd bekend nie.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus