Update
GEORGE NUUS - Die passasier op die motorfiets wat Saterdagaand 1 September net voor 18:00 op die R102 gesterf het, was die 46-jarige Fredré van der Merwe van George.
Sy was die hoofbestuurder by Linda's Bed & Breakfast in Standerstraat.
Haar verloofde, Johan Stander, wat die motorfiets bestuur het, is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem. Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder vir die gesonheidsdepartement, is sy toestand tans stabiel. Hy het veelvuldige frakture ogpedoen.
Die George Herald het navrae aan die polisie gestuur om te verneem of die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk afgehandel is en wag vir terugvoer.
'n Baie emosionele Melinda Niehaus, eienaar van Linda's Bed & Breakfast, het gesê Van der Merwe was 'n ware staatmaker. "Sy het vir vyf jaar by my gewerk. Sy was 'n persoon wat kon 'multi-task', beheer neem, en krisissituasies hanteer. Sy was administratief ook baie sterk. Ek het nie net 'n vriendin verloor nie; vir die besigheid is dit 'n enorme verlies."
Volgens Niehaus het Van der Merwe van Johannesburg af getrek en by haar begin werk om 'n nuwe lewe in George te begin.
Sy het in 2016 verloof geraak aan Stander.
Lees Donderdag meer in die George Herald en aanlyn.
Lees 'n vorige artikel: Vrou sterf in ongleuk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus