GEORGE NUUS - ‘n Jong man en vrou is gister, Woensdag 23 Januarie, voor die George-hof vir die besit van dwelms (65 LSD-pille en papiermotiewe) asook onwettige steroïedes, in hegtenis geneem.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die provinsiale speurders verbonde aan die dwelm-taakspan inligting opgevolg waarna die twee vasgetrek is.
Die vrou (24) het volgens inligting die pakkie waarin die dwelms en verbode middels verpak was, by ‘n plaaslike poskantoor afgehaal en dit by die man (27), wat by die George-hof as ‘n klerk werk, afgelewer.
Beide verdagtes is aangekeer en die polisie het op die dwelms, wat in die kattebak was, beslag gelê. Die saak teen hulle is vanoggend tydelik teruggetrek vir verdere ondersoek en in afwagting van die laboratorium uitslae.
Pojie sê die waarde van die dwelms en verbode middels beloop ongeveer R10 000.
“Sodra die uitslae bekend is, kan hulle weer gearresteer word en voor die hof gebring word op die klagtes waarvoor hulle aanvanklik aangekeer is,” het Pojie gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'