GEORGE NEWS
Veilige Skole
Kommer oor veiligheid by Hoërskool Pacaltsdorp neem toe nadat daar vir die soveelste keer dié kwartaal by die skool ingebreek is.
Dinsdagoggend, 16 Junie, is die polisie weer uitgeroep na die skool nadat daar by die rekenaarklas ingebreek is deur ’n gat in die klaskamer se muur (Nutec-bord) te maak. Tientalle tablette, rekenaarskerms en ander toerusting is gesteel.
Die vorige dag het diewe by die koshuis ingebreek en die inloopyskas se motor gesteel en die hittepompe gestroop.
Luidens ’n Facebook-plasing van die skool raak die inbrake ’n daaglikse tendens. ’n Sekuriteitsalarm by die kantoorgebou het hulle afgeskrik toe hulle toegang tot die kantoor wou kry.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Chris Spies, het op navraag gesê die inbraak is omstreeks 07:40 ontdek. “Die verdagtes het die deur en diefwering beskadig om toegang te verkry. Hulle het 84 tablette, agt skerms, ’n drukker en verskeie elektriese toestelle gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het,” sê Spies.
Die polisie het ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur. Teen vanmiddag, 17 Junie, is geen arrestasies nog gemaak nie.
Verskeie rekenaartoerusing en tablette is uit die rekenaarlokaal gesteel.
Enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes en die terugvind van die gesteelde onderrigmateriaal, word versoek om die Pacaltsdorp-polisie by 044 803 9100 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
Die ondersoek duur voort.
Vorige inbraak
Die voorvalle het opnuut vrae laat ontstaan oor veiligheid en sekuriteit by die skool.
Verlede maand is derduisende rande se skade aan die skool se infrastruktuur aangerig, terwyl waardevolle items glo ook gesteel is. Tussen 14 en 15 Mei, toe die skole weens storms gesluit was, is daar by die skoolsaal ingebreek. Volgens die polisie het ’n onderwyser die skool besoek en die inbraak opgemerk. “Die ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 40 jaar oud.”
Die inbraak op 5 Mei is ook by die polisie aangemeld, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.
WKOD reageer
In reaksie op vorige navrae oor die departement se planne om veiligheid by die skool en koshuis te verbeter, het WKOD-woordvoerder, Bronagh Hammond, gesê hulle is bewus van die voorvalle van inbraak en vandalisme by die skool en dat die aangeleentheid formeel deur die toepaslike kanale gerapporteer is en aandag geniet.
“’n Veilige Skole-besoek is by die skool uitgevoer, waartydens ’n terreininspeksie plaasgevind het en ’n stel veiligheids- en sekuriteitsaanbevelings gemaak is om die algehele veiligheidsomgewing te versterk.”
’n Opvolgterreinbesoek sou plaasvind om die omstandighede te evalueer, die implementering van aanbevelings te hersien en te bepaal of enige verdere ondersteuning benodig word. Dit is onduidelike of die besoek afgekom het.
’n Lugverkoeler aan die buitekant van die klaskamer, is ook gebuit.
Hammond het in reaksie op die 14/15 Mei-insident gesê, tussentydse maatreëls is op skoolvlak ingestel om die perseel te beveilig. “Die departement werk nou saam met die skool om te verseker dat toepaslike ingrypings geïmplementeer word om die skool te ondersteun en veiligheid en sekuriteit te versterk.”
Die voorlopige skadeberamings was toe geskat op ongeveer R30 000.
George Herald het navrae oor die jongste voorval aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gerig, hulle kommentaar word afgewag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’