GEORGE NUUS - 'n Elfjarige kankerlyer van Syferfontein, John-Wayne Jacobs, het iets om na uit te sien wanneer hy en sy ma moontlik in Junie terugkeer huis toe.
"Ons kan nie wag om saam met ons gesin in ons nuwe huis [by die Erf 325 ontwikkeling] te gaan bly nie," het sy ma, Monica Jacobs, gesê.
John-Wayne, wat verlede jaar in November sy eerste operasie by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad ondergaan het, was in Februarie laas tuis saam met sy broer, suster en pa.
Die Booysen-egpaar is begunstigdes in die nuwe behuisingsprojek langs Rosedale, in Pacaltsdorp. Hulle is aanvanklik 'n dubbelverdiepingwoonstel toegeken, maar nadat John-Wayne verlede jaar so skielik siek geword het, het hulle gevra om eerder te ruil vir 'n enkelverdieping huis, aangesien John-Wayne sukkel om trappe te klim.
Direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, het by navraag bevestig dat Jacobs verseker met die volgende oorhandiging haar enkelverdieping huis sal ontvang.
"Die dubbelverdiepingwoning wat aanvanklik aan haar toegeken sou word, is aan 'n ander begunstigde oorhandig en sy is gevra om intussen bewyse in te dien dat haar seun wel in die hospitaal in Kaapstad is," het Lubbe gesê.
Die bewyse is gelewer en Jacobs het Dinsdag 11 Mei die goeie nuus ontvang dat haar gesin binnekort hul intrek kan neem.
Monica was verlede week in trane toe sy met George Herald gesels. "Dit is 'n lang en moeilike pad. Ek mis my ander kinders verskriklik. Ek sien en ontmoet mense wat ook kinders hier het wat behandel word, maar die wat ek mee gesels het is nou al almal huis toe," het sy gesê.
John-Wayne is gediagnoseer met Medulloblastoma, 'n breinkanker wat meestal kinders affekteer. In John-Wayne se geval is 'n groeisel agter sy nek verwyder, sowel as vog op sy brein.
"Daar is nog 'n klein stukkie van die groeisel oor wat hulle nie kon verwyder nie, en daarvoor kry hy chemoterapie," het Monica gesê. Volgens Monica is John-Wayne baie dors na chemoterapie en geniet hy sap en sjokolade.
John-Wayne na afloop van sy operasie by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad.
Die Booysens word deur hul kerk, Eagle's Nest Ministries, bygestaan.
Vir meer inligting kontak Mercy James van die kerkkantoor by 062 373 5729.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'