GEORGE NUUS - 'n Man met diep wortels in die Suid-Kaap, Tertuis Simmers, is die nuwe Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings.
Hy is in die plek van Bonginkosi Madikizela wat voortaan verantwoordelik sal wees vir vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap.
Die 36-jarige Simmers is van George en het al verskeie senior posisies in die DA beklee. Hy was in die verlede onder meer speaker van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit. Hy het ook op die burgemeesterskomitee van die distriksmunisipaliteit gedien.
In 2017 het hy 'n lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer onder die DA-vaandel geword.
Simmers het kort na sy aanstelling vanoggend bekend gemaak is, aan die George Herald gesê hy is opgewonde en sien uit na die nuwe uitdaging.
"Ek waardeer die vertroue wat premier Allan Winde in my stel deur die portefeulje van menslike nedersettings aan my te gee. Tydens die DA se verkiesingsveldtog is die behoefte geïdentifiseer om die lewering van behuisingseenhede te versnel."
Voorts om dienste te lewer wat alles binne die raamwerk van die provinsiale regering val.
Hy is bewus van die uitdagings wat wag. Hy het bygevoeg: "Dit is 'n moeilike portefeulje, maar ook 'n interessante een. Daar is innoverende wyses om die kompleksiteite volhoubaar aan te spreek."
Volgens Simmers was die aanstelling vir hom 'n verrassing, maar hy beskou dit as 'n eer om die gemeenskap in die hoedanigheid te kan dien.
Hy sal nie die Suid-Kaap vergeet nie. Uit 'n politieke oogpunt is die oosstreek sy streek van herkoms. Hy het benadruk as minister sal hy al die streke in die provinsie dien.
Sy vrou, Monique, verstaan sy werk en sy ondersteun hom.
• Die nuwe Wes-Kaapse premier, Allan Winde, kom oorspronklik van Knysna en is dus ook van die gebied.
Lees 'n verwante artikel: Western Cape Cabinet announced
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'