Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ofskoon kiesers vir die munisipale tussenverkiesing in wyk 18 gisteroggend (Woensdag) by die twee stempunte, die NG Kerk Denneoord en die Moth-saal in Loeriepark, aanvanklik in klein getalle opgedaag het, was daar groot opgewondenheid onder veral politieke partye. Verteenwoordigers van politieke partye het gesê hulle beskou die tussenverkiesing as 'n proeflopie vir die algemene verkiesing wat oor minder as 'n maand plaasvind.
Teen druktyd was die uitslag nog nie bekend nie en die uitslag is teen gisteraand 23:00 verwag. Hou gerus die George Herald se webtuiste en Facebook-blad Donderdag dop vir die volledige uitslag.
Teen 08:00 gisteroggend het verteenwoordigers van die ACDP, DA en VF Plus reeds hul stalletjies by beide punte beman. Die ANC was ook slaggereed by die Moth-saal, en het kort voor 09:00 by die NG Kerk Denneoord aangekom. Die EFF, wat ook vir die tussenverkiesing geregistreer het, was nie vroegoggend by die stemlokale te siene nie.
'n Gespanne atmosfeer het by die stempunte geheers. In die een hoek was die ACDP en VF Plus, terwyl die DA in 'n ander hoek was. Die ACDP en VF Plus was oënskynlik ongelukkig oor pamflette wat na bewering deur die DA versprei is.
Johan du Toit van die ACDP het aangevoer dat die laaste twee dae 'n vuilverkiesingsveldtog was. "Daar was persoonlike aanvalle op die ACDP-kandidaat [Gert Niehaus]." Die DA het gesê Niehaus is nie 'n faktor nie.
Verkiesingtyd: Politieke partye se kleurvolle stalletjies gister vroegoggend in Loeriepark voor die ingang na die Moth-saal. Foto: Eugene Gunning
Gert van Niekerk, die VF Plus-kandidaat, het gesê dis verbasend dat die munisipaliteit aan die vooraand van die tussenverkiesing 'n verklaring uitgereik het dat die Tuinroete-damwal nou uiteindelik verhoog gaan word.
DA-kiesafdelingshoof, Andricus van der Westhuizen, het 'n beroep op kiesers gedoen om asseblief te kom stem. Tradisioneel is daar lae stempersentasies in munisipale tussenverkiesings en politieke partye was bekommerd dat dit die uitslag kan beïnvloed.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
- #IMadeMyMark - DA retains Ward 18
- Tussenverkiesing vir Wyk 18
- Tussenverkiesing begin in Wyk 18
- Ward 18 by-election on hand
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'