GEORGE NUUS - Met minder as 'n maand voor die nasionale en provinsiale verkiesings, is die tonge los oor die uitslae van twee munisipale tussenverkiesings in die Suid-Kaap. Die DA stap breëbors rond nadat hy wyk 18 in George behou het en ook 'n wyk in Hessequa by die ANC, in 'n ander munisipale tussenverkiesing, afgeneem het.
Veral die uitslag in George het mense aan die praat want 'n baie taai verkiesingstryd is gevoer. Daar word egter gewaarsku dit was 'n munisipale tussenverkiesing en daar moet dalk nie te veel in die uitslag gelees word nie.
Teenstanders van die DA was vinnig om daarop te wys dat die stempersentasie in wyk 18 slegs 43,27% was.
Verteenwoordigers van politieke partye het met gemengde reaksie op die uitslag in wyk 18 gereageer.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê die nasionale en provinsiale verkiesing op 8 Mei het beslis 'n rol gespeel in die tussenverkiesing in wyk 18.
Van die kiesers was verward en hulle het nie besef hulle moet weer op 8 Mei gaan stem nie.
Volgens hom het die VF Plus se syfers wel gegroei in die tussenverkiesing. In 2016 het die party sowat 3% van die stemme gekry en nou bykans 18%.
Hy is optimisties. "Mens eet 'n olifant happie vir happie." Johan du Toit van die ACDP het verwys na die lae stempersentasie in wyk 18. "Ons vermoed dis toe te skryf aan 'n smeerveldtog wat teen ons kandidaat Gert Niehaus, gevoer is. Baie van die mense wat vir Gert sou gestem het, het weggebly. Hulle was verward en wou nie vir 'n ander party gaan stem nie."
Wat hom betref, moet daar nie te veel in die uitslag gelees word nie. Nieteenstaande die nederlaag het die ACDP se steun verdubbel. Die uitslag motiveer die party om alles in te sit vir 8 Mei. "Die uitslag van die tussenverkiesing haal ons nie van ons koers nie. Dit laat ons fokus om ons doelwit te bereik." Darryl Sauer ANC-voorsitter in George, het gesê dit was 'n munisipale tussenverkiesing. "Ons het kennis geneem van die uitslag en fokus op 8 Mei."
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê dis is alombekend dat die situasie nie na wense is vir die DA nie.
"Ons is dankbaar dat ons wyk 18 behou het en in ekstase dat ons in Hessequa 'n wyk van die ANC afgeneem het."
Die DA is terdeë bewus dat oor drie weke vind die nasionale en provinsiale verkiesings plaas. Die DA beskou dit as elkeen se verantwoordelikheid om te verseker dat die DA beheerde Wes-Kaap nie in die hande van die ANC of die EFF val nie.
Die DA neem kennis van die ACDP en VF Plus se groei in wyk 18. Londt het gesê: "Geluk met hulle marginale groei, maar die provinsie kan nie verloor word deur 'n vermorsing van stemme op kleiner partye nie."
Londt het ontken dat die DA teen enige van die partye smeerveldtogte gevoer het. "Ons het net die feite tot ons beskikking bekend gemaak."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'