Update
GEORGE NUUS - Annari Cronjé (40), die munisipale werknemer wat skuld beken het op strafbare manslag nadat sy in 'n munisipale vragmotor vir Jelandré Afrika (8) in 2021 op die sypaadjie in Rosedale doodgery het, is vroeër vandag, Donderdag 21 November, in die George-landdroshof gevonnis.
Cronjé is tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis. Sy moet ook 16 ure per maand afstaan aan gemeenskapsdiens.
Cronjé mag ook nie die distrik verlaat sonder die nodige toestemming van die owerhede nie en moet sekere programme, waaronder lewensvaardighede en trauma-inligtingsessies, voltooi. Verder mag sy geen plekke besoek wat alkohol bedien of verkoop nie. Sy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Jelandré, haar neef, en drie vriende was op pad van die winkel af huis toe, toe sy onder die vragmotor se wiele beland het.
Sy is op die toneel dood. Jelandré was een van 'n tweeling en die jongste van ses kinders.
Tydens vonnisoplegging het landdros Riaan Kamfer genoem dat hoewel Cronjé berou getoon het tydens die verhoor, en dat dit nie wetlik verpligtend is vir 'n beskuldigde om self agter die getuiebank in te skuif nie, sou die hof dit goedgedink het vir haar om mondelings haar getuienis af te lê.
Cronjé se verklaring is vroeër tydens die verhoor deur haar regsverteenwoordiger, Winston Jansen, op rekord ingelees.
"Veral in hierdie geval sou dit belangrik gewees het om iets vir die gesin te sê wat baie emosioneel is. As die beskuldigde self iets gesê het, sou dit hulle 'n mate van afsluiting gegee het."
Ma gaan dit nie hier los nie
Jelandré se ma, Clara Afrika, het na hofverrigtinge gesê dat sy baie ongelukkig is oor die vonnis.
"My kind is dood en sy [Cronjé] loop steeds buite rond. Die ondersoek is van die begin af nie reg hanteer nie en ek voel die polisie, die departement van justisie en die munisipaliteit het my gefaal. Ek gaan dit nie hier los nie. Die saak gaan óf hooggeregshof toe, óf ek soek my kind lewend terug," het Afrika buite die hof gesê.
"Sy het my R50 000 vir restitusie aangebied. Géén hoeveelheid geld gaan my kind terugbring nie. Al wanneer ek sal rus is wanneer sy in die tronk sit vir wat sy gedoen het.
"Ek is moeg daarvoor om in my eie land uitgebyt en vertrap te word. Beteken ons kinders se lewens dan niks? Die Here hoor my, ek sal die saak tot in die hoogste hof baklei."
Camfer het genoem dat Cronjé deurentyd berou getoon het, dat sy 'n eerste oortreder is en ook 'n jong enkelouer van 'n minderjarige kind.
In die maatskaplike werker se verslag is daar ook genoem dat Cronjé se bure haar as 'n nie-gewelddadige en liefdevolle mens beskryf het.
Jelandré Afrika
Vorige artikels:
- Vrou gevonnis vir kind se dood
- Woman to be sentenced for child's death
- Vrou pleit skuldig aan manslag na kind se moord
- Dogtertjie (8) sterf na trok haar tref
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’