GEORGE NUUS - Was dit nie vir Jelandré nie, was haar tweejarige niggie ook dood. Só sê Jelandré se gebroke ma, Clara Afrika, van haar agtjarige dogter wat Maandagmiddag, 16 Augustus, in Rosedale doodgery is.
Jelandré, haar niggie en drie maatjies was van die winkel af op pad huis toe in Rosedale, toe sy onder die wiel van 'n munisipale vragmotor beland het.
Die voorval het omstreeks 15:20 in Abrahamstraat, naby haar ouerhuis plaasgevind.
"Die kinders het op die sypaadjie geloop en mense sê sy het haar niggie uit die pad van die aankomende trok in die bosse langs die sypaadjie ingestamp toe sy dit sien aankom. Was dit nie vir haar nie, was hulle al twee seker dood," vertel Afrika.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, sê die omstandighede rondom die voorval is nog onduidelik en word tans deur speurders ondersoek.
"Voorlopige inligting dui daarop dat drie kinders op die skouer van die straat geloop het toe die dogtertjie onder die wiel van die vragmotor beland het. Sy het op die toneel aan veelvuldige beserings beswyk," het Pojie gesê.
Jelandré (8) was haar ma se hart se punt.
Jelandré was die jongste van ses kinders en haar ma beskryf haar dogter, 'n leerder aan Pacaltsdorp Primêr, as haar slimste kind.
"Sy was 'n sonstraal in ons lewens en het diep in almal se harte gekruip. Sy was lief vir skool en het baie goed gedoen. Helfte van my hart is weg en ons verstaan nie hoekom dit gebeur het nie, maar ons glo die Here sal vertroosting bring."
George-munisipaliteit het ook die voorval bevestig en hul medelye aan die gesin betuig.
Die Pacaltsdorp-polisie ondersoek 'n klag van strafbare manslag.
Clara Afrika wys vanwaar die vragmotor gekom het.
'n Lykskouing sou gister, Woensdag 18 Augustus, gehou word om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal. Begrafnisreëlings is nog nie bevestig nie, maar die familie het aangedui dat dit volgende week sal plaasvind.
Jelandré laat haar ouers, drie boeties en twee sussies agter.
Clara Afrika, ma van die oorlede Jelandré (8) op die toneel waar die ongeluk plaasgevind het, word deur 'n familielid getroos.
Die straat waarin Jelandré doodgery is. Die vragmotor het glo in trurat oor haar gery. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'