GEORGE NUUS - 'n Vrou wat in Augustus 2021 vir Jelandré Afrika (8) in Abrahamstraat, Rosedale, met 'n munisipale vragmotor doodgery het, het Vrydag 4 Oktober in die George-landdroshof op 'n aanklag van manslag skuldig gepleit.
Annari Cronjé (40) se prokureur, Winston Jansen, het haar verklaring op die rekord ingelees terwyl Jelandré se familie verslae en emosioneel uit die hofbanke toegekyk het.
Jelandré was een van 'n tweeling en die jongste van ses kinders.
"Dis 'n baie tragiese gebeurtenis. Daar is geen pleitooreenkoms rakende die vonnis nie, maar ons het steeds skuldig gepleit en sal die hof voor vonnisoplegging toespreek," het Jansen gesê.
In haar verklaring het Cronjé gesê sy erken dat sy nalatig was en die draai wyer moes geneem het om die sypaadjie te vermy waarop Jelandré geloop het.
Op Maandag 16 Augustus 2021 was Jelandré, haar niggie en drie maatjies op pad huis toe van die winkel af, toe sy onder die wiel van die vragmotor beland het.
Clara Afrika staan voor die plek waar haar dogter doodgery is en wys vanwaar die vragmotor gekom het. Foto: Kristy Kolberg
Die voorval het omstreeks 15:20 in Abrahamstraat, naby haar ouerhuis plaasgevind. Jelandré is op die toneel dood verklaar.
In haar verklaring het Cronjé gesê dat hoewel sy nie as 'n drywer aangestel is nie, sy daardie dag as 'n drywer gewerk het om te help met opruiming van vloedskade in die area. Sy was op pad om haar kollegas iewers op te tel toe die voorval plaasgevind het.
Sy sê sy het die kinders gesien en haar toeter geblaas. Een van die kinders het gestop en sy het aanhou ry tot sy mense hoor skree het.
"Ek het die voertuig gestop en gesien mense wys na die agterkant van die vragmotor en ek het besef die agterwiele van die voertuig het oor die sypaadjie gegaan."
Cronjé het die nooddienste geskakel en weens inwoners wat oproerig geraak het, moes sy wegkruip in iemand se huis tot die polisie opgedaag het.
Die saak is uitgestel tot 14 Oktober vir Jansen om met sy kliënt te konsulteer en om moontlike versagtende omstandighede aan die hof voor te lê.
"Ek het nog nooit so baie gebid nie. Dis net die Here se genade wat my hierdeur dra," het Jelandré se ma, Clara, na afloop van hofverrigtinge aan George Herald gesê.
"Sy was 'n sonstraal in ons lewens en het diep in almal se harte gekruip. Sy was lief vir skool en het baie goed gedoen. Helfte van my hart is weg en ons verstaan nie hoekom dit gebeur het nie, maar ons glo die Here sal vertroosting bring."
George-munisipaliteit het by navraag gesê die saak is sub judice, en dat hulle nie in hierdie stadium kan kommentaar lewer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’