Update
GEORGE NEWS - Die saak teen Eldrin “Whitey” Nimmerhout en Ricardo Prins, die verdagtes in die gewelddadige aanval op die afgetrede predikant dr Louis Ronald Petersen (84) van Pacaltsdorp, is vroeër die week in die George-landdroshof uitgestel tot 17 Maart.
Die voorval het op Woensdag 17 September by Petersen se huis in Disastraat plaasgevind.
Prins is reeds sedert 18 September 2025 in aanhouding, terwyl Nimmerhout die volgende dag in hegtenis geneem is.
Hy is aanvanklik vrygelaat omdat sy saak nie op die hofrol verskyn het nie, maar is weer in November in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding
Die saak is in Desember verlede jaar uitgestel vir verdere ondersoek weens uitstaande getuieverklarings en videomateriaal.
Op 14 Januarie is die saak weer uitgestel omdat hierdie items steeds nie afgehandel was nie. Tydens dié week se verrigtinge het die landdros die saak finaal uitgestel, aangesien die videomateriaal steeds uitstaande is.
“Dit was net deur God se genade”
Vir dr Petersen bly die hofverrigtinge ’n pynlike herinnering aan die aanval wat byna sy lewe gekos het.
Die 84-jarige is in sy motorhuis aangeval en bebloed en vol kneusplekke agtergelaat. Hy het destyds vertel dat hy pas van die dorp af teruggekom het toe hy twee jong mans op ’n betonbankie oorkant die pad gesien het, sonder om enige gevaar te vermoed.
Oomblikke later het een van die mans sy motordeur oopgeruk, hom aangerand en ’n vuurwapen, wat later as ’n namaaksel geïdentifiseer is, teen sy ribbekas gedruk.
Petersen is daarna sy huis ingestoot, waar geld geëis is en hy met ’n slagmes gedreig is. Sy vrou het deur die voorval geslaap en die tweede verdagte het nie die huis binnegekom nie.
Die aanvaller het onder meer Petersen se selfoon, bankkaarte en elektroniese toerusting gesteel voordat hy hom beveel het om hom huis toe te ry.
“Ek het gebid vir ’n uitweg. Dit was net deur God se genade,” het hy gesê.
Na 'n lang gesukkel kon Petersen gelukkig ontsnap en by sy bure hulp te soek. Teen die tyd dat hy met hulp teruggekeer het, was die aanvallers en die gesteelde items reeds weg.
Vorige artikels:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’