Update
GEORGE NUUS - Vonnisverrigtinge in die moordsaak waarin die 47-jarige Duane Singrew en sy neef, Heinrich Jumat (46), vir die moord op Singrew se vervreemde vrou, Joan Pamela Singrew (53), skuldig bevind is, het vandeesweek in die rondgaande hooggeregshof in George begin.
Tydens die getuienis-impakverklaring, wat op Dinsdag 7 April aangehoor is, het Monique van Beulen geween toe sy haar ma se moordenaar gesmeek het om God om vergifnis te vra vir sy dade.
Van Beulen het verduidelik hoe onherroeplik dit haar en haar minderjarige susters se lewens verander het.
Volgens haar gaan haar sussies steeds vir berading, en die trauma en hartseer is iets wat hulle daagliks moet meemaak.
“Ons vergewe jou, maar dink aan jou kinders. Vra God om vergifnis vir jou dade,” het sy vir Singrew gesmeek. Tydens haar verklaring het sy gesê dat hul huis, wat eens ’n veilige plek van liefde was, nou ’n moordtoneel is en hulle nie meer daar tuis voel nie.
Skuldig bevind
Regter André le Grange het Singrew en Jumat in Maart op moord en dwarsboming van die gereg skuldig bevind. Jumat is as ’n medepligtige skuldig bevind.
Le Grange het die staat se getuies as geloofwaardig bevind en hul weergawes van die gebeure as konsekwent beskou. Die staat het sterk gesteun op forensiese bewyse en videobeeldmateriaal.
Le Grange het Singrew se getuienis as vol teenstrydighede beskryf en bevind dat Joan se dood die gevolg was van ’n gewelddadige aanval wat tot wurging gelei het.
Daarna het die twee mans haar liggaam sonder enige waardigheid in ’n kloof in Groot-Brakrivier weggegooi. Jumat het nie getuig nie.
Joan se liggaam is op haar 53ste verjaarsdag, op 25 November 2024, gevind nadat dit in die kattebak van Singrew se voertuig vanaf hul huis in Rosemoor vervoer is tot waar hulle haar in die bosse gelos het.
Slotbetoë
Tydens haar slotbetoë op Woensdagoggend, het staatsadvokaat Evadné Kortje benadruk dat huishoudelike geweld, veral teen vroue, ’n toenemende pandemie in Suid-Afrika is en dat Joan vermoor is deur die persoon wat haar en haar kinders moes beskerm.
“Die beskuldigdes was albei bekend aan die slagoffer en hulle het hulle vertrouensposisies misbruik. Haar liggaam is soos vullis weggegooi.”
Sy het ook gesê dat Singrew deurentyd géén berou getoon het nie en dat dit moeilik is om agter te kom of Jumat enige berou het, want hy is “so stil soos ’n muis”.
Kortje het genoem dat ’n getuie tydens die verhoor aan die hof gesê het dat Singrew van plan was om later terug te gaan na waar hulle Joan se liggaam gelos het om dit aan die brand te steek.
Hierop het Singrew en Jumat albei hul koppe uit die beskuldigdebank geskud.
Le Grange het ná afloop van die slotbetoë die saak tot Vrydag 10 April vir vonnisoplegging uitgestel.
Vorige artikels:
- Duane Singrew guilty of murdering his wife
- Singrew-moord: Man en neef skuldig bevind
- Singrew-moord: Ford Figo en bloedspore sentraal in staat se saak
- Slotbetoë wag in Singrew-moordsaak
- Joan Singrew murder: Husband's movements scrutinised
- Man getuig oor sy bewegings toe Joan Singrew verdwyn
- Joan Singrew murder trial: Accused brings application for discharge
- Joan Singrew murder: CCTV evidence presented
- Geweld voor Joan se dood
- Joan Singrew murder trial starts in high court
- Joan Singrew-moordverhoor begin eersdaags
- Joan Singrew murder: Two suspects arrested
- Body found on birthday
- Familie bevestig liggaam van Groot-Brak is dié van Joan Singrew
- Vrou se lyk op Groot-Brak gevind
- George woman reported as missing
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’