GEORGE NUUS - 'n Ontvoering, 'n gewaagde ontsnapping en 'n hartverskeurende terugkeer huis toe - hierdie laaste paar dae was niks minder as traumaties vir Bettie, 'n wit boelterriër wat op Maandag 23 Junie uit haar erf in Eden gesteel is.
Volgens haar eienaar, Leomy Botes, was sy en haar vriend, Brendon Mitchell, vir middagete by die huis, tussen 12:00 en 12:35, toe Bettie nog vrolik was en vir haar bederfie gewag het. Maar skaars drie ure later het alles verander.
Kort ná 15:00 het Mitchell vir Botes 'n boodskap op Bergsig-buurtwag se WhatsApp-groep, oor 'n wit boelterriër wat in Levallia gevind is, gestuur. Leomy het dadelik geweet dis haar Bettie.
Volgens inligting het twee verdagtes vanaf die huis in Eden, met Bettie tot in Levallia gestap, waar lede van die polisie toevallig op patrollie was.
Buurtbewoners het gesien hoe die twee mans in 'n straat met Bettie stap net toe die polisie om die draai kom. Die mans het onmiddellik gespat en Bettie agtergelaat.
Die polisie het by haar gebly totdat die Tuinroete DBV haar kom haal het. Haar mikroskyfie het bevestig wie sy is. Nadat Botes en Mitchell die oproep ontvang het dat sy by die DBV is, is hulle dadelik daarheen.
Haar pote se kussinkies was afgeskuur soos sy gesleep is, haar nek rou van 'n stywe wurgketting en haar mond het seerplekke en snye gehad, waarskynlik van skoppe of houe.
Met die hulp van Marileen Greeff van Borcherds Paws, is Bettie na die PDSA vir behandeling geneem.
Verdagte kom terug vir nog
Op Woensdag 25 Junie, terwyl Mitchell by die huis was, het hy iemand buite hoor roep. Hy het eers nie veel daarvan gedink nie, tot hy hoor iemand probeer by die voordeur inkom. "Bettie was op sterk medikasie en het diep geslaap," sê hy.
Mitchell het die man by die voordeur betrap. Dié het gesê hy soek brood, maar in die konfrontasie erken dat hy en 'n vriend Bettie gesteel het. Hy wou nie sê hoe lank hulle die huis dophou nie, en gesê die hele storie was sy vriend se idee.
Toe Mitchell hom na buite lei, het die man probeer vlug, maar is kort daarna deur Bergsig buurtwag in Standerstraat vasgetrek. Die polisie is ontbied en die verdagte is in hegtenis geneem.
Bettie is tans by die huis, maar steeds op sterk medikasie. Mitchell werk van die huis af om haar permanent by te staan.
"Sy is getraumatiseer," sê Botes. "Sy kyk my aan asof sy vra: 'Mamma, waar was jy toe hulle my gevat het?' Dit breek my hart."
Sy bedank almal wat vinnig opgetree het, maar sê sy sal nie rus voor geregtigheid geskied nie.
"Dis wreedheid teenoor diere op sy ergste. En ek sal nie stilbly nie."
Enigeen met sekuriteitsmateriaal tussen Courtneystraat, Meyerstraat en Mujo's word gevra om dit met Botes te deel.
*Bettie is gesteriliseer en die verdagtes wou haar glo verkoop.
Terug in my pappa se arms. Bettie saam met Brendon Mitchell. Foto: Kristy Kolberg
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’