Hannes en Alie Louw, die eienaars van dié dinamiese besigheid wat spesifiek gemik is op die "doen-dit-self" persoon, het destyds 'n motor-onderdele winkel oorgekoop en dit binne slegs ses maande omskep in 'n volwaardige hardeware-winkel.
Natuurlik was die jarelange tegniese ondervinding wat Hannes as Tegnikus in Industriële Elektronika by YSKOR opgedoen het, van onskatbare waarde en het dit sy kennis-gebied aansienlik verbreed. Trouens, Hannes het tydens sy 21 jaar by YSKOR getrou elke twee jaar bestuurskursusse bygewoon wat gelei het tot die voortreflike bestuurstegnieke waaroor hy vandag beskik.
Alie hanteer al die administrasie en Gert Laubscher is die entoesiastiese verkoopsverteenwoordiger wat sedert 2003 voltyds by Heiderand Hardeware en Elektries werksaam is. Sy eggenoot, Ansie, help ook oor naweke met verkope uit.
Gert was ook lank by YSKOR as "Passer-en-Draaier" werksaam en beide Alie én Ansie het ook by YSKOR opleiding ondergaan.
Hannes en Alie wil dit graag onder die publiek se aandag bring hulle nie uit eie keuse na 'n nuwe perseel verskuif het nie. "Ons kliënte wil weet wat die rede is vir ons skuif, so ons maak nou van hierdie geleentheid gebruik om kortweg te verduidelik. Ons is in kennis gestel dat ons huurkontrak in die Mosselbaai Mall nie vir hernuwing oorweeg sal word nie aangesien die plek gemaak moet word vir nasionale kettingwinkels. Daar is ook aan ons voorgehou dat 'n hardeware-winkel nie in 'n winkelsentrum hoort nie," verduidelik hulle.
Hannes en Alie vra die publiek om verskoning dat 'n duidelike advertensie-bord nog nie aangebring is buite hul nuwe besigheidsperseel nie - dit is tans in die vervaardigingsproses. Hulle pad-aanwysings is egter baie duidelik op hul meegaande advertensie.
'n Groot verskeidenheid hardeware-items en selfs allerlei sport-items soos visstokke, windbukse, skokgewere, messe en pepersproei vir selfverdediging pronk op die kleurvolle rakke wat hulle self geïnstalleer het. Die span doen ook besondere moeite om nuwe produkte van hul verskaffers te bekom om 'n besoek aan hul winkel interessant en die moeite werd te maak.
"Vir ons is persoonlike diens en gemeenskapsbetrokkenheid uiters belangrik, en ons glo dat dít die rede is waarom ons kliënte altyd tuis voel. Ons wil dit graag so hou, en nooi die publiek hartlik uit om ons by ons nuwe perseel te besoek."
Gaan maak gerus 'n draai by Heiderand Hardeware en Elektries (sien advertensie) op Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 17:30, Saterdae van 08:00 tot 13:30 en Sondae van 08:30 tot 11:30, of kontak hulle by 044 693 1058.
Hulle spog nou met ‘n groter vloeroppervlak waar die wye verskeidenheid hardeware en allerlei sporttoerusting met gemak uitgestal kan word.