GEORGE NUUS - Die sake-inisiatief, Business Café, laat nie gras onder hul voete groei nie. Dr. Dennis Farrell, die dryfkrag agter die inisiatief, het Maandag gesê twee geleenthede word vir aanstaande Woensdag, 22 Februarie, beplan.
Die oggend van 10:00 tot 13:00 sal Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, belangegroepe in George toespreek. Enige belangegroep in George is welkom om dit by te woon.
Dit vind plaas by die Apprentice by die François Ferreira Academy. Dit is digby die George-lughawe.
"Sakeliga gaan hul suksesse deel wat hulle onder meer gehad het in litigasie teen stadsrade asook die nasionale regering. Dit sluit in aangeleenthede rondom dienslewering en aankoopbeleid deur die staat."
Le Roux sal ook sy indrukke gee van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede.
Die aand vind 'n geleentheid by die Hawthorne Boutique Hotel plaas. Dit begin om 18:00 en sal toegespreek word deur Russel Lamberti, Sakeliga se ekonoom. Hy sal praat oor die impak van die begroting op Jan Alleman. Die begrotingsrede word die middag in die parlement in Kaapstad gelewer.
Bernard du Plessis, ook van Sakeliga sal praat oor die impak van die begroting op belasting.
Beide geleenthede vind plaas onder die vaandel van Business Café. As gevolg van die lokale moet getalle beperk word.
Belangstellendes kan 'n e-pos stuur aan businesscafe@alfaomega.co.za.
'n Geleentheid wat gister, Woensdag 15 Februarie, sou plaasvind en waar dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers sou praat, is uitgestel.
Farrell het gesê Sooliman is na Turkye om daar te help met die onlangse aardbewing. Hy sal beslis later na George kom. Die datum moet net gefinaliseer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'