Advertorial
GEORGE NUUS - Laerskool George-Suid se Eden Super Series-netbaltoernooi wat oor die Maart-April-vakansie by die skool aangebied is, was uiters suksesvol met 16 topspanne van elders in die land wat hier saamgetrek het.
Laerskool Gene Louw van Kaapstad het in die A-liga met die louere weggestap en Orion van Alberton was die naaswenners.
"George-Suid is sterk netbal-georiënteerd en ons wil die sport uitbrei en 'n liefde daarvoor kweek onder al ons dogters. Toernooie soos die Eden Super Series laat netbal groei en skep geleenthede vir vele dogters om hulle vaardighede net nog meer te ontwikkel.
"Ons is voorwaar trots op ons toernooi," sê Rolandi Steyn, George-Suid se bedryfshoof en netbalorganiseerder.
Die deelnemende skole was Bryanston, Rustenburg, Eversdal, Lochnerhof, Horison, Wesbank, Orion, Helderkruin, Gene Louw, Stellenbosch, Park, Outeniqua, Hartenbos en Oranje-Noord.
"Ongelooflike netbal is gespeel. 'n Mens sal dink dat ons dogters se vaardighede na die Covid-pandemie agterbly het, maar glad nie. Die kaliber spanne wat hier was en die vaardighede wat vertoon is, was werklik van hoë gehalte. Dit maak ons opgewonde, veral in 'n jaar waar Suid-Afrika die wêreldbeker huisves.
"'n Toernooi soos hierdie gee ook afrigters en skeidsregters kans om hulle vaardighede en manier van afrig te verbeter. Daarmee saam is ongelooflike vriendskappe onder speelsters, afrigters en skeidsregters gevorm."
Volgens Anja Swart, George-Suid se bemarker, is George en omgewing aantreklik vir skole om te besoek.
"Die meeste van die besoekers vanjaar is by Seabreeze Cabanas gehuisves, reg by die see, so die sport word sommer gekombineer met 'n seevakansie. Mense wat verkies het om nader aan die dorp te wees, het in Loerie Lodge gebly. Dis baie gerieflik."
'n Prysuitdeling met medaljes en 'n aangename beamptefunksie is ook aangebied. Vir meer inligting oor George-Suid se netbal-planne en volgende jaar se Eden Super Series, bel die skool by 044 873 3464.
Laerskool Orion was die naaswenners in die A-liga.
Die wenners in die A-liga by George-Suid se Eden Super Series was Laerskool Gene Louw.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’