Video
GEORGE SAKE-NUUS EN VIDEO - Sy sal graag wil hê dat meer sakeondernemings en mense by die George-sakekamer betrokke moet raak, sê Bernadette (Bernie) Schaap, die nuwe bestuurder van die George-sakekamer.
Sy hou sedert die begin van die maand die leisels vas en is in die plek van Ingrid Cronjé wat afgetree het.
Schaap was tot voor haar aanstelling die bestuurder van die George-kunsteteater. In haar tyd daar het sy die teater deur stormwaters gehelp toe dit in een stadium byna gesluit het.
In 'n openhartige gesprek het Schaap gepraat oor die nuwe uitdaging wat op haar lewenspad gekom het. Sy het geen illusies nie. Schaap is 'n opgeleide mediese tegnikus en sy het ook 'n passie vir die kunste.
Toe sy in 2019 as bestuurder by die George-kunsteteater aangestel is, het 'n nuwe wêreld vir haar oopgegaan. Net so sien sy die nuwe uitdaging by George-sakekamer.
Schaap sê behalwe dat die sakekamer 'n forum is waar sakeleiers kan netwerk en idees uitruil, is dit ook 'n instrument wat met die verskillende regeringsfere skakel in samewerking met die sakegemeenskap.
Bernadette (Bernie) Schaap, die nuwe bestuurder van die George-sakekamer.
Sy glo George het baie moontlikhede en baie van die infrastruktuur bestaan reeds soos byvoorbeeld die George-lughawe. "George is 'n goudmyn van geleenthede."
Daar is groot ekonomiese uitdagings en dis onsekere tye. "Dit voel amper soos klei onder mens se voete." Boonop is daar ook Covid-19 en baie mense het hul werk verloor.
Na raming is daar meer as 4 000 sakeondernemings in George en as elkeen betrokke raak by die sakekamer kan dit baie vir die stad beteken. "Ek wil George-sakekamer die sterkste in die Wes-Kaap maak."
Kyk 'n video hieronder:
Sy glo die sakekamer moet meer sigbaar wees en sy sal graag saamwerk met ander sakekamers op ander plekke en soortgelyke instansies.
Schaap beskou klein sakeondernemings as net so belangrik soos groot ondernemings.
Dit gebeur soms dat mense in die gebied kom aftree en dan klein sakeonder-nemings hier begin. Hulle speel 'n belangrike rol in die plaaslike ekonomie. As hulle nie suksesvol is nie, kan hulle alles verloor en dit is ook sleg vir die plaaslike ekonomie.
Een van die grootste uitdagings is werkskepping. As dit nie gebeur nie, kan dit 'n rimpel effek hê soos 'n toename in misdaad.
In haar vrye tyd is sy baie lief vir seehengel en as moontlik sal sy voortgaan met toneelwerk as stokperdjie.
Schaap het benadruk sy is bereid om te leer en haar deur staan oop. Mense is welkom om met haar in verbinding te tree. Kontak haar gerus by 044 874 3349 of stuur 'n e-pos aan manager@georgechamber.co.za.
Mary Anne Loose (links) van die administrasie van die George-sakekamer en Bernadette Schaap, die nuwe bestuurder. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'