Advertorial
GEORGE SAKENUUS - Na 'n kort en baie suksesvolle loopbaan in die hardeware-bedryf het Akker van der Merwe 'n berekende kans gewaag om sy eie onderneming te begin en vandag stoom Akkers Hardeware by sy veertigjarige-mylpaal verby.
Intussen het Akker self die leunstoel nader getrek en bestuur sy twee seuns, Alhan en Penkie van der Merwe, die trotse familiesaak wat een van die heel oudste familie-ondernemings in George is wat nog nie hande verwissel het nie.
'n Jong Akker, wat vandag saam met sy kinders en kleinkinders wyd bekend is in verskeie sportkringe, het in 1970 as toonbankklerk by die destydse PG Timbers ingeval en binne twee jaar as takbestuurder oorgeneem.
Hy het vinnig opgang gemaak en as assistent-areabestuurder met ses takke onder sy beheer diens gedoen toe hy in 1978 besluit het om sy eie hardewarewinkel te begin.
Met 'n man aan die stuur wat die bedryf van binne geken het, het die winkel van krag tot krag gegaan met die perseel in Yorkstraat wat vinnig te klein was, is die perseel van Mervin Grimbeek tien jaar later in Hiberniastraat gekoop waarvandaan die onderneming vandag nog bedryf word.
In 1991 het Penkie by sy vader se besigheid aangesluit en is in 1992 deur sy ouer broer, Alhan, gevolg.
Nog 'n perseel agter die winkel is in 2001 aangeskaf waar 'n baie suksesvolle tuinsentrum geopen is om 'n meer volledige diens te lewer.
Akker het in April 2007 die bedryf van die onderneming aan sy twee seuns oorgelaat. Die Van der Merwes skryf hul sukses toe aan die persoonlike aandag wat hulle aan veral die selfdoeners asook jare lange klante bied.
Hulle het ook hul jare lange ondersteuners bedank en die onderneming se sukses aan hulle toegedig.
Akker, wat die afgelope paar dekades een van die voorste rolbalspelers in die streek is, is 'n paar jaar gelede as een van die Wes-Kaapse sportlegendes bekroon. Beide sy kleinseuns is tans internasionale rugbyspelers.
Die 40ste bestaansjaar gaan, soos tydens elke mylpaal in die verlede, met spesiale aanbiedings in die winkel gevier word.
Kontak Akkers Hardeware by 044 873 6564.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'