LANDBOU NUUS - Die Emery Soft Fruit sagtevrugteplaas (Karma Farming) op die R404 naby Blanco is besig met ’n grootskaalse hersteloperasie nadat die windstorm op Maandag 11 Mei geraamde skade van tussen R15 miljoen en R20 miljoen aan hul oes en infrastruktuur veroorsaak het.
Volgens die bestuurder, André Swart, is windspoed van tot 126 km/h op die plaas gemeet, wat tot massiewe skade aan hulle produksietonnels en bessies gelei het. Hulle verbou aarbeie en frambose.
Ander omliggende bessieplase, insluitend Redberry, Haygrove, Eden Berries / PHC, Wildernis Fruits, Dagbreek, Brandwag en Van Greunen Boerdery, het wydverspreide skade, sê Swart. By Haygrove teen die berg is winde van tot 150 km/h gemeet.
Swart sê op Karma Farming het die storm die netwindbreke omgewaai en die plastiekbedekking van die meeste tonnels afgeruk en staalrame gebuig ondanks die feit dat dit gebou is van ’n hoë graad staal met 2 mm wande.
Hoewel sommige tonnels se plastiek betyds opgerol en vasgemaak kon word, was daar nie genoeg tyd om dit oral te doen nie. Waar die plastiek opgerol is, is die skade aan die rame minder, maar daar is steeds groot plantskade.
Na raming is sowat 12 ton frambose wat gereed was vir oes, afgewaai. Aarbeie wat in ’n sensitiewe blomstadium was, het ook hul blommetjies verloor, wat toekomstige opbrengs ernstig beïnvloed.
Swart sê die herstel van die skade sal waarskynlik vier tot vyf maande neem. Die infrastruktuurskade alleen word op sowat R10 miljoen geraam, maar met die oesverliese ingesluit kan dit tot R20 miljoen beloop.
Die plaas het ook die komende maand geen inkomste nie. “Ons kry die plantjies van Wellington, en daar is baie streng patentregte op die variëteite. In Suid-Afrika is daar net twee gelisensieerde kommersiële kwekers.”
Hy sê die hoë windrisiko in die George-omgewing maak versekeringsdekking onhaalbaar. “Dit sou sowat R25 000 per maand per hektaar kos om te verseker. Versekeringsmaatskappye dek ook nie infrastruktuur van ouer as vier jaar nie.”
Hektare wat onder tonnels is, is beskadig.
Uitvoerbedryf
“Die sagtevrugtebedryf in die streek is ’n belangrike rolspeler in die uitvoermark, met die meeste produkte wat na die Midde-Ooste en Europa gaan. Duisende mense is afhanklik van die sektor wat regdeur die jaar in produksie is.”
Karma Farming beslaan 20 hektaar onder bessieproduksie en lewer jaarliks sowat 350 ton aarbeie en 200 ton frambose. Swart sê die afgelope twee jaar was van die moeilikste in drie dekades, met warmer winters, hoër gemiddelde temperature, uitermate hoë reënval gedurende 2023 en die droogte van verlede jaar.
Ten spyte hiervan bly die streek een van Suid-Afrika se mees gesogte en belangrikste bessieproduserende gebiede. Swart het die onlangse reën verwelkom wat damvlakke drasties opgestoot het.
“Ons het net sowat 16 weke se water oorgehad. Nou is een dam vol en die ander sowat 75% vol.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’