GEORGE NUUS - Dr. Mark Wiseman, 'n ortodontis van George, is besig om as kranige beesboer te ontpop. Hy het die afgelope naweek by die Bloemfonteinse landbouskou met sy Dexter-beeste 'n eerste prys ingepalm in die afdeling Junior Dexter-bul en ook die vierde plek opgeraap in die interras-afdeling.
Dít nadat hy slegs twee en 'n half jaar gelede met sy Dexter-stoet begin het. As gelowige het hy dit gedoop Iyana wat beteken 'God reën seëninge op 'n mens'.
Hy het sy beesboerdery begin omdat hy passievol is oor gehalte vleis. "My doel is om die beste vleis in Suid-Afrika te produseer. Dexter-vleis is hoog in omega-3-vetsure en het uitstekende vetverspreiding. Ek wil graag net die heel beste, hormoonvrye vleis in my mond sit."
In die begin het hy leiding gekry van 'n boer in die Vrystaat, Hendrik Strydom. Hy het met vier diere begin en sy stoet sal volgende week 30 diere hê wanneer die jongste kalf gebore word.
"Die vleis van 'n Dexter-bees behaal R1 000 per kilogram omdat dit uitstekende gehalte vleis is vol beessmaak. Mense dink dis 'n klein bees, maar hoewel hy kort is op sy bene, is hy baie breed en het ongelooflike diepte in die karkas. Die vroulike diere weeg tussen 230 kg en 400 kg en bulle kan tot 850 kg haal," sê Wiseman.
Hy kry tyd vir sy boerdery danksy die aflosbasis waarop hy en sy vennoot, dr. Cobus Coetzee werk.
Wiseman gee leiding aan 'n paar ander boere om ook stoeterye van die grond af te kry.
"Ek het van kleins af 'n liefde vir boerdery. My oupa was 'n boer in Maclear en in die Transkei. As kind het ons 'n groot stuk grond in Constantia in die Kaap gehad en ek moes die gras sy. My ma wou nie toestemming gee dat ek 'n paar beeste kry om die gras kort te hou nie, maar ek mag darem hoenders aangehou het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'