LANDBOU NUUS - Boere en ook veeartse en veekundiges in die George-omgewing gaan gebuk onder ernstige sielkundige druk weens die onhoudbare situasie wat veroorsaak word deur die drupsgewyse voorsiening van entstof vir bek-en-klouseer.
Beeste op 'n vyfde plaas in die 10 km-kwarantyngebied rondom die Hartenbos-indeksplaas waar BKS in die eerste week van Februarie gediagnoseer is, het positief getoets. Die diere is reeds ingeënt.
Daar is ook 'n ernstige tekort aan ander medikasie om geïnfekteerde diere wat ernstige simptome toon, te behandel.
"Die medikasie vir die behandeling van mastitis [uierontsteking] en anti-inflammatoriese middels is bykans onverkrygbaar. Veral melkbeeste wat siek is, se hoewe of uiers word so erg aangetas dat hul spene afval of gate in die uiers inval of hulle hoewe afkom, maar jy as veearts is magteloos. Jy kan niks vir hulle doen nie. Dit laat jou met frustrasie en 'n depressiewe gevoel," vertel dr. Muller Strydom, 'n veearts van die George-dierehospitaal.
Hy sê die praktyk word daagliks oorval met oproepe en boodskappe. "Vir die boere wat graag voorkomend wil ent, moet jy elke keer sê, 'jammer, ons het nog nie entstof nie'."
'n Sensus van gespletehoefdiere wat die praktyk oor die laaste maand op plase waarby hulle in die George-omgewing en Klein-Karoo betrokke is begin het, staan al op 88 000. Dit is slegs diere van boere wat bereid was om hul getalle te deel.
Dit beklemtoon die hopeloosheid van die situasie in die lig van die klein hoeveelheid entstowwe wat die Tuinroete ontvang. Dit is slegs uiters streng biosekuriteitsmaatreëls wat op die oomblik tussen die virus en 'n plaas staan. Met die eerste besending van 1 miljoen van die Biogénesis Bagó-entstof, het die Wes-Kaap 30 000 dosisse gekry, waarvan 10 000 na die Tuinroete gestuur is.
"Met die tweede besending van 1,5 miljoen wat die afgelope naweek gearriveer het, noem hulle dat die Wes-Kaap maar 45 000 dosisse gaan kry. Dis heeltemal onvoldoende. Ons provinsie is nou aan dieselfde risiko onderwerp as die res van die land, waar nuwe uitbreke amper weekliks aangemeld word," sê Strydom.

Hy is erg teleurgesteld omdat die dieregesondheidsafdeling van die provinsiale landboudepartement nie reeds verlede jaar voorkomende stappe geneem het toe hy en boere van hierdie omgewing 'n plan met riglyne aan die direkteur van dieregesondheid beskikbaar gestel het nie.
"Ek het Maandagoggend 'n e-pos aan die landbouminister, Ivan Meyer, gestuur en weer 'n dringende beroep gedoen dat die Wes-Kaap meer entstof moet kry."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’