GEORGE NUUS - Ofskoon daar talle uitdagings in die landbou is, is hy steeds optimisties oor die toekoms van die bedryf. Dis die boodskap van Nelius van Greunen, wat verlede Vrydagaand as die George-sakekamer se sakeleier van 2019 aangewys is.
Van Greunen is een van Suid-Afrika en George se bekendste landbouleiers. Hy is die besturende direkteur van Van Greunen-boerdery en saam met sy drie broers, Johan, Bennie en Christie vorm hulle 'n gedugte span.
Hy beskou die toekenning as 'n erkenning van die baie belangrike rol wat landbou in die plaaslike, provinsiale en nasionale ekonomie speel.
Die boerdery bevat verskeie vertakkings waaronder melkboerdery, aartappelboerdery en produsering van bloubessies. Elke dag word sowat 6 000 koeie twee keer gemelk en word daar voorsien in 1,3% van die land se totale melkproduksie. Na raming word elke dag in die melk- en suiwelbehoeftes van sowat 750 000 mense voorsien.
Van Greunen praat nie maklik oor homself nie. Hy vertel dat sy oupa, Michael van Greunen hom in 1947 in die omgewing gevestig het. Dit is waar alles begin het. Oor die jare het die boerdery uitgebrei. Sy pa, Ben, het self sy merk in die landbou gemaak. Hy het in 1994 ook die toekenning as die George-sakekamer se sakeleier van die jaar ontvang.
Volgens Van Greunen word die rol van landbou onderskat. Landbou het baie meer potensiaal. Dis nie net 'n verskaffer van voedsel nie. Dit speel 'n belangrike rol in sosiale kohesie en stabiliteit in die platteland.
Nelius van Greunen, George-sakekamer se sakeleier van 2019 en besturende direkteur van Van Greunen-boerdery, by van die koeie op 'n plaas buite George.
Hul boerdery verskaf 350 permanente werksgeleenthede en meer as 800 seisoenale werksgeleenthede.
Dit het 'n vermenigvuldigingseffek op die plaaslike ekonomie. Hy is optimisties oor die toekoms. Ja, daar is die uitdagings soos klimaatsverandering en druk op bestaande hulpbronne soos veral water.
Tog glo hy daarin is juis geleenthede. Mense word meer en hul lewenskwaliteit word onder meer bepaal deur die voedsel wat hulle benut.
Sal hy iemand aanbeveel om te gaan boer? "As jy hou van grond, plante, diere en mense, dan is die landbou vir jou."
As jy egter iemand is wat maklik tou opgooi, moet jy jou nie op die terrein begewe nie.
Jy moet ook in gedagte hou dat dit nie net ekologies volhoubaar moet wees nie, maar dit is ook 'n sakeonderneming. "Die toepassing van gesonde sakebeginsels is deurslaggewend."
Volgens hom is Van Greunen-boerdery suksesvol want hulle beskou dit as 'n roeping. "Die omgewing is aan ons toevertrou om dit goed te versorg, te benut en die nasie te voed."
Die onderneming beskou dit ook as belangrik om byvoorbeeld werk en opleiding te verskaf. Die personeelkorps is die ruggraat van die besigheid.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'