GEORGE NUUS - Die 41 565 entstofdosisse vir bek-en-klouseer (BKS) wat die Tuinroete oor die naweek ontvang het, is minder as waarop gehoop is, sê dr. Leana Janse van Rensburg, George se staatsveearts.
"Ons sou baie meer vir staatsveeartse wou gee om voorkomende inenting te doen, maar ons het ongelukkig nie daardie hoeveelhede gekry nie. Ons prioriteit bly om die 10 km-radius rondom ons uitbrekings klaar te maak.
"Dit begin ook nou tyd word om die beeste wat in ons uitbrekingsareas met die Botswana-entstof ingeënt is, versterkingsdosisse te gee. Daar is bykans 12 000 sulke beeste en ons het vandeesweek begin daarmee."
Sy sê by 'n melkery met goeie fasiliteite kan hulle 1 000 of selfs 2 000 beeste per dag inent. "As dit 'n klein plot is met niks fasiliteite nie en ons moet ons mobiele drukgange kry en dit na die tyd ontsmet, al is dit net vir 'n paar beeste, dan doen jy baie min daai dag, so die tempo van inenting hang baie af van die fasiliteite."
Om siektevrye buffels te beskerm, word inentingsaansoeke vir plase rondom buffelplase in die George- en Mosselbaai-areas tans oorweeg en goedgekeur.
Daar is ook 'n paar hoërisiko-suiwelplase soos aangedui op 'n lys van die Melkprodusenteorganisasie en AgriSA waarvan die goedkeurings tans plaasvind. "Ons het ongelukkig nie genoeg entstof vir verdere goedkeurings op die huidige oomblik nie, maar ons hoop daar kom binnekort nog 'n besending," sê Janse van Rensburg.
7de geval bevestig
'n Sewende geval van BKS in die Mosselbaai-omgewing is die afgelope week deur die Tuinroete-distriksmunisipaliteit bevestig.
Daar was nog geen bevestigde gevalle aan die George-kant van die distrik nie en volgens Janse van Rensburg is daar tans ook geen verdagte gevalle hier nie.
Volgens Marlene Nqumse, 'n kommunikasiebeampte vir die Tuinroete-rampbestuursentrum, is alle beeste wat binne die kwarantyngebied vry rondloop, proaktief teen BKS ingeënt.
"Wetstoepassingsbeamptes in die betrokke areas het ook gehelp met publieke bewusmaking, asook tydens die inentingsproses. Soos meer entstof beskikbaar raak, sal daar ook gefokus word op vrylopende diere in ander areas buite die kwarantyngebied."
Die syfers soos op Dinsdag 17 Maart was soos volg:
- BKS-verdagte persele, toetsuitslae hangend: vyf (afgeneem met een)
- BKS-toetse negatief terug: 13
- Aantal plase ingeënt: 111 (toegeneem met 24)
- BKS-entstowwe tot op hede toegedien: 18 230 (toegeneem met 4 893)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’