TUINROETE | KAROO NUUS - Die George-landbouskou gaan vir die eerste keer in twee jaar weer plaasvind.
Skoupresident Corné Botha het op Woensdag 13 April by 'n bekendstellingsgeleentheid van 2022 se skou gesê die skouraad is dankbaar om vanjaar van 25 tot 28 Augustus weer die hekke te kan open. Kaartjies is reeds by Computicket beskikbaar.
'n Opwindende nuwe item op die program is die Wes-Kaapse pensteekkampioenskappe. 'n Ooreenkoms is ook reeds met die Wes-Kaapse pensteekfederasie aangegaan vir die aanbieding van die Wêreldkampioenskappe by die 2023-skou.
Verder word 'n nuwe kompetisie, vir ongetroude boere, beplan waar die deelnemers aan 'n verskeidenheid praktiese "toetse" sal deelneem.
Van die bestaande landbouafdelings kry 'n vars aanslag. Huisvlyt gaan in die vorm van 'n plaasmark aangebied word waar boervroue en plaaslike opkomende boere hulle ingemaakte en varsprodukte kan verkoop.
Die gebruiklike skoukoninginkompetisie, jeugskou, sportfees, skoudans, kaas- en wyntent, Op die Stoep met plaaslike kunstenaars en ovaalbaanwedrenne is weer op die program. Optredes deur musiekkunstenaars Caroline Grace, Michael Lindt, Fat Man en Early B is op die vermaakprogram.
Oudrugbyspeler Burre Burger sal die spreker wees by 'n manne-ontbyt, en 'n oggendfunksie vir bejaardes met Michael Lindt as kunstenaar sal aangebied word.
Die SA Jersey-kampioenskappe is weer deel van die aanbiedings in die diereafdeling en Botha het gesê die pluimveeafdeling gaan baie uitbrei met meer inskrywings as ooit wat verwag word. Watervoëls en konyne sal vir die eerste keer op uitstalling wees.
Vriende van die Skou, Love George se stigter, Herman Pienaar, en Heartbeat FM se stasiebestuurder in George, pastoor Christo Nel was by die bekendstellingsontbyt. Lede van die publiek, organisasies en besighede word genooi om vriende van die skou te word deur praktiese hulp of deur donasies en borgskappe.
Groei en vernuwing
"Ons tema vanjaar is 'groei en vernuwing' en ná die droë, uitdagende tyd waardeur ons almal is, wil ons die skou laat groei en nuwe dinge inbring. Ons nooi borge om met ons hande te vat om dit moontlik te maak.
"Die George-landbouskou, wat vanjaar vir die 162ste keer aangebied word, is reeds die grootste in die Wes-Kaap. Uit dankbaarheid, gaan ons die skou afsluit met lof en aanbidding op Sondag 28 Augustus. Toegang vir die geleentheid sal gratis wees," het Botha gesê.
Die Suid-Kaap veteraantrekker- en implementeklub gaan help om die tema uit te beeld met 'n spesiale uitstalling waar skougangers van die oudste en mees afgeleefde trekker tot die nuutste John Deere sal sien.
Die bekendstelling is bygewoon deur 'n klein aantal borge en vriende van die skou asook George-burgemeester, Leon van Wyk en die Garden Route-onderburgemeester, Adv. Gert van Niekerk.
Wilma Rademan van Clickonit en Mariëtte de Sousa, die skousekretaresse, het bietjie beraadslaag oor die skou wag weer in Augustus plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'