SUID-KAAP NUUS - Al meer jonger boere tree toe tot landbou in die Suid-Kaap en Absa het 'n Jongboerdag gereël om hierdie boere met finansiële inligting toe te rus.
"Twee, drie jaar gelede was dit net gryskoppe wat by landbouvereningvergaderings opgemerk is, maar vandag is seker sowat 60% jongboere wat dit bywoon," sê Pieter de Jager, landbou-ekonoom by Absa AgriBesigheid, wat die Jongboerdag by Oude Meul buite Oudtshoorn gereël het.
Sowat 25 jongboere van Oudtshoorn, George en Mosselbaai/Herbertsdale het met groot aandag geluister na hoofspreker Nelius van Greunen van Van Greunen Boerdery in die George-omgewing.
Van Greunen het die kernwaardes van die boerdery soos volg saamgevat: "Ons is produksiegedrewe en produseer landbou produkte wat gesond en ekonomies volhoubaar is – alles wat ons doen moet ekonomies sin maak en ons meet sukses aan die fisiese uitkomste oor langtermyn-siklusse. Risiko en wins loop saam en ons neem nie onnodige risiko's wat die besigheid en ons produkte kan benadeel nie. Ons omskep winsgewendendheid in kapitaalvorming binne die besigheid. Die boerdery besigheid moet effektief geskei wees van persoonlike belange. Bowenal wil ons deur ons boerdery 'n kwaliteit lewe vir elkeen betrokke by die besigheid skep."
Marlise Steenekamp, regsadviseur by Absa WIMI, het die voor- en nadele van die verskillende besigheidsentiteite toegelig. "Dit is voordeliger om as 'n maatskappy of 'n trust te boer eerder as in jou eie naam of in 'n vennootskap. As jy in jou eie naam boer, stop jou besigheid as jy afsterf, terwyl 'n maatskappy of trust voortgaan."
Wessel Lemmer, landbou-ekonoom by Absa AgriBesigheid, het die vooruitsigte van landbou en die ekonomie toegelig. "Vir jongboere is die toekoms belangrik, want jy moet onthou dat jy teen 2050 70% meer moet produseer met dieselfde hulpbronne. Ons beleef 'n tegnologie-revolusie en die afgelope twee jaar is 90% van die data, wat tans tot ons beskikking is, geskep. Jy moet jouself posisioneer in terme van hierdie data en tegnologie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'