GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap-oumotorklub het Maandagoggend, 21 September, hul jaarlikse Erfenistoer vanaf Halfway Toyota in George afgeskop.
Altesaam 48 deelnmers in 26 voertuie neem vanjaar aan die toer deel, met voertuie wat van voor die Tweede Wêreldoorlog dateer tot modelle uit 1980. Onder die klassieke voertuie is onder meer Chrysler- en Plymouth-modelle.
Die groep lê oor die vier dae sowat 1 000 km af en verken van die Suid-Kaap se mooiste paaie en erfenis-bestemmings.
Op die eerste dag het die deelnemers oor die Outeniquapas na De Rust en verder na Willowmore gereis, waar hulle by Kaput middagete geniet het. Die eerste aand is by die Royal Hotel in Steytlerville deurgebring.
Dinsdag het die groep na Kaap St. Francis vertrek, met 'n besoek aan die VW Auto Pavilion en die Volkswagen-aanleg.
Woensdag het die toer hulle via Nature's Valley na Plettenbergbaai geneem. Die toer sluit vandag, Donderdag 24 September, met 'n spitbraai af.
Toyota ondersteun die toer met 'n ondersteuningsvoertuig en sleepwa wat die groep gedurende die reis vergesel.
Die jaarlikse toer is nie net 'n viering van klassieke motors nie, maar ook 'n geleentheid vir deelnemers om die streek se geskiedenis, landskap en erfenis te ontdek.
Twee Ford Model T's, albei blink gepoets en gereed vir die toer.
Luther Niemand by sy 1974 Fun Bug. Dié kewer is een van slegs 1 600 wat wêreldwyd vervaardig is. Foto’s: Kristy Ayliffe
Willie Boylan by sy Ford Escort wat onlangs heeltemal oorgedoen is.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’