Anoniem van George:
Ontmoet vir Ettiene Haman en sy pragtige hond Titan.
Meeste van julle het hom en sy hond seker al gesien staan op die hoek van York- en Langenhovenstaat of dalk op die hoek van Courtenay- en Merrimanstraat. Dit is waar ons hom die eerste keer gesien het en vir hom 'n geldjie in die hand gestop het om vir hulle kos te koop.
Hy en sy hondekind het dadelik in ons harte gekruip en hoe meer ons hom gehelp en met hom gesels het, het ons stukkie vir stukkie die legkaart van sy hartseer lewensverhaal te hore gekom.
Hy is baie intelligent en 'n gekwalifiseerde elektrisiën (eintlik is hy soos die spreekwoord sê 'n Jack of all trades).
Hy het deur 'n ongeluk alles verloor wat hy besit het en so op straat beland.
Mense veroordeel hom as dwelmverslaafde omdat hy op straathoeke staan en bedel.
Na vele vals aantygings en stories wat oor hom versprei is, het hy sonder versuim ingestem dat ons hom vir 'n dwelmtoets neem en dit is met trots dat ons kan sê dat hy negatief getoets het vir alle dwelms. Al wat hy vra is 'n kans om weer te kan werk en 'n dak oor sy kop te hê sodat hy kan opstaan uit die haglike omstandighede waarin hy en Titan (vir wie hy baie lief is) hulle op die oomblik bevind.
Indien u dalk weet van enige werk, miskien as sekuriteit by 'n besigheid met 'n kamer waar hy en Titan kan bly, sal hy dit ontsaglik baie waardeer. n Michelle Pienaar het 'n onderhoud met Haman gevoer. Lees meer daaroor elders in die koerant.