Sas du Plessis, George:
Sedert 26 Maart het Suid-Afrika en spesifiek die onderwys, 'n ongekende tydperk vir die meeste landsburgers, ouers, onderwysers en kinders betree.
Onderwys in sy geheel beskou, het op alle vlakke verander. Daarmee saam ook tegnologie wat in onderwys gebruik word. 2020 se skooljaar gaan nie meer dieselfde wees nie.
Omstandighede vereis dat invalshoeke verander en lesinhoud en -beplanning word nou op digitale platforms aan ouers deurgegee. Elkeen ervaar die grendeltyd verskillend en so ook hoe onderrig nou in elke ouerhuis plaasvind.
Ouers het vir twee maande familie- en onderrigtyd met kinders spandeer. Uitvalle is dalk opgemerk en sommige het weer hul kinders beter leer ken. Dalk het oorstimulasie plaasgevind uit 'n vrees vir agterstande of daar is 'n gebrek aan onderrig. Baie ouers het ook weer begin werk wat hierdie situasie verder bemoeilik het.
As daar een ding is wat die grendeltyd aan ons uitgewys het, is dit die rol en die invloed van 'n onderwyser op 'n kind. Vir sommige is die opvoeder 'n rolmodel, 'n veilige hawe, 'n tutor, 'n afrigter en ook 'n persoon op wie daar staatgemaak kan word. Kinders het 'n behoefte aan 'n gesig, 'n stem, goeie struktuur en motivering wanneer dit by skoolwerk kom. Hulle het absolute ontsag vir hul onderwysers.
Advertensies op sosiale media rakende tuis- en privaat onderrig het drasties toegeneem met legio opsies vir ouers om van te kies. Daar is voordele en nadele aan verbonde. Die keuses van ouers moet op goeie beginsels en feite gegrond wees.
Skole sal by hierdie nuwe omstandighede van die 'nuwe normaal' moet aanpas om steeds onderrig en leer van 'n hoë standaard aan kinders te bied. Die skool met sy toegewyde onderwysers is die beste plek vir kinders om te groei en te ontwikkel. Sosiale- en akademiese vaardighede word onderrig deur spesialiste met 'n omgee-hart, en moet vertroue by ouers wen om kinders in die skoolopset te hou.
Lees-, skryf- en wiskundige-vaardighede is gebaseer op boublokke wat chronologies en volgens 'n leerplan aan kinders vanaf gr. 1 onderrig word. Tegnologie is nou meer as ooit 'n groot hulpbron vir onderwysers, kinders en ouers, en daar heers met reg opgewondenheid oor die toekoms van publieke onderwys in George en Suid-Afrika.
Sas du Plessis is die hoof van Laerskool George-Suid. Hy skryf egter hierdie brief in sy persoonlike hoedanigheid as onderwyskenner.