In die dag werk hy in 'n hardewarewinkel tussen verfblikke, hamers, skroewe en skuurpapier, maar wanneer die winkeldeur agter hom toegaan, ontsnap Gerrit na die stilte en natuurskoon van Bergplaas waar hy en sy vrou, Marita en haar twee kinders woon. Dis hier waar hy hom uitleef as skrywer en skilder.
Dit het Gerrit, wie se verhale 'n Christelike inslag het, 23 jaar geneem om sy eerste boek, Ondulan te voltooi. Dit speel af sowat 150 jaar ná die wederkoms van Christus, soos na verwys word in die Bybel. Die hoofkarakter, 'n jongman genaamd Taéll Adanaii Shanidar, keer terug vanuit 'n diepruimte-verkenningsekspedisie na die eiland Ondulan, 'n hoë-sekuriteitsgebied.
Hier vind hy dat wetenskaplikes aan 'n geheime projek werk om tyd te manipuleer vir die heraanvulling van spesies wat verlore geraak het in die Slag van Armageddon, waarna in Openbaring in die Bybel verwys word. Deur die konstruksie van 'n dimensionele brug, hoop wetenskaplikes om die DNS van die verdwene spesies te bekom vir 'n intensiewe teelprojek. Taéll word ingesleep by die projek en beland in 'n sleurstroom wat hom neem na die wildste planeet waarop hy hom ooit bevind het - sy eie.
In die opvolgboek, T!Nax'u is dit 14 jaar ná Taéll se Ondulan-avontuur en hy is in bevel van 'n elite taakmag van interdimensionele verkenners. Tydens 'n verkenningstog ontdek een van die taakmaglede 'n skeur in die weefsel van ruimte en tyd wat 'n verbin-ding bied met Suid-Afrika tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Dit speel grootliks af in die Karoo – 'n omgewing waaroor Gerrit 'n obsessie het.
Hy het as kind reeds 'n ryk verbeelding gehad en Bergplaas was vir hom 'n "sprokies-plek" met geen buitewêreld nie. "Jy dink die berge en bos gaan vir duisende kilometers aan en aan met vreemde wesentjies wat dit bewoon," vertel hy.
Sy fassinasie met die ruimte is deur sy pa aangewakker en met 'n kop propvol kreatiewe idees het Gerrit as tiener eers prentverhale (comics) geskep.
"Ondulan het min of meer in 1986 begin toe ek rowwe idees vir 'n ruimteverhaal begin aanmekaar werk het."
Ná hy in 1987 aan Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer het, het hy vir ses maande filmwetenskap aan die Pretoria Technikon studeer, en toe opgeskop. "Ek kon nie aanklank vind by daardie 'help my Amerikaans wees' atmosfeer nie."
Hy't vir 'n ruk as beligtingstegnikus by die Staatsteater gewerk voor hy 'n diploma in beeldende kuns verwerf het en teen die einde van die 90's het hy sy hart terug na Bergplaas gevolg. In hierdie tyd het hy by Wildernis Hardeware begin werk.
Hoewel hy in die verlede verskeie kunsuitstallings gehad en al baie skilderye verkoop het, neem hy deesdae "drupsgewys" die kwas op, want skryf neem te veel tyd in beslag. Waar Ondulan 'n ongelooflike tydsame pro-ses was en 'n klomp redigering nodig gehad het, het hy T!Nax'u binne vier jaar voltooi. "Daar is tye wat jy sukkel, want jy wil hê die leser moet presies sien wat jy sien."
Hy sê selfs al rond jy die boek af, sluip daar steeds idees tot op die laaste oomblik in. "Jy moet net oppas, want 'n klein toevoeging vroeg in die boek, kan verreikende rimpelings verder in die storielyn tot gevolg hê."
En die idees hou aan met vloei. Gerrit sê 'n derde en vierde in die reeks is reeds besig om vorm aan te neem.
Sy boeke is beskikbaar deur www.amazon.com en www.afrifiksie.com.
_518337298.jpg)
Gerrit ontwerp self die omslag van sy boeke.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'