TUINROETE VERMAAKNUUS - Die Garden Route Casino in Mosselbaai bied hierdie Desember 'n trilogie van komedie aan.
Die vertonings vind plaas om 20:00, in die Bravo Lounge en kaartjies is beskikbaar by Computicket.
Die program is as volg:
19 Desember - Lizz 35 (met Lizz Meiring):
In 2019 vier aktrise Lizz Meiring 35 jaar in die vermaaklikheidbedryf. Om hierdie mylpaal te vier is ‘n spesiale vertoning/konsert geskep.
“Lizz 35 “ is ’n klets en skets konsert en vertel Lizz van die woelinge en waansin, die tragedies en triomfe, die chaos en kreatiwiteit, die beroemdes en berugtes, die vreugdes en vertwyfelings van ’n lewe as aktrise.
Sy onthul die ver paaie se reis - plaaslik en internasionaal, die vreemde kleedkamers, verhoë, film- en tv stelle, die soms vreemde gedrag van gehore, luisteraars, kykers en die bewonderaars.
In die uiters vermaaklike stuk, vol verrassings oor die vermaaklikheidsbedryf, kry die gehoor ’n agter-die-skerms ervaring soos nog nooit vantevore.
’n Stroom karakters uit haar skeppende skatkis maak hul opwagting - dis vars, dis slim, snaaks en soms meer ernstig. Dis warmhartig, deernisvol en uiteindelik die storie van oorleweing en belewing - die verhaal van die aanslae, gelukskote, opslae en wenslae van die lewe waarmee elkeen kan indentifiseer .
20 Desember - Snorseun (met Schalk Bezuidenhout)
Schalk Bezuidenhout, die krulkopkomediant met sy kenmerkende truitjies en skerp tong, tree op 20 Desember op in Mosselbaai.
Sedert hierdie boorling van Kempton Park in 2015 (en weer in 2017) in Trevor Noah se voorprogram opgetree en 'n solo-vertoning op Comedy Central uitgesaai is, het hy vinnig 'n huishoudelike naam geraak. Hy het ook reeds twee Comics Choice-toekennings en ’n gesogte SAFTA ingepalm.
Schalk is deesdae 'n bekende gesig op televisie, veral in die rol van geliefde Danny in die reeks Hotel, waarvan die vierde reeks onlangs geskiet is. Schalk het ook die afgelope twee jaar kykers laat regop sit en skaterlag as anker van die satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid, ook op kykNET. Schalk tree ook deesdae gereeld oorsee op en was vanjaar al in Londen, Dubai en Edinburgh vir vertonings.
Snorseun is Schalk se derde Afrikaanse eenmanvertoning.
Teatergangers kan uitsien na die snorseun op sy beste, met vlymskerp waarnemings en sosiale kommentaar oor die lewe en die land waarin ons leef.
Met vertellings oor alles van wildritte en legkaartbou tot 'n trick in die fliek, sal Schalk jou laat skater. Schalk het Suid-Afrika al deurkruis met Snorseun en vol sale by kunstefeeste gelok.
Hierdie is van die laaste geleentheide wat teatergangers vir Schalk in aksie kan sien in hierdie spesifieke eenmanvertoning. Snorseun sal baie reaksies by jou uitlok, waarvan lag sommer lag-lag die grootste is.
26 Desember - KeelVOL (met Germandt Geldenhuis en Je-ani Swiegelaar)
Dirk Havenga is die nuwe sang- en musiekonderwyser op die dorp. Hy het 'n terugslag as musikant beleef in die stad, en probeer nou sy heil vind op die platteland. Hy is metodies, passievol oor musiek en kruip weg agter 'n gordyn van sarkasme en harde werk.
Mariëtte Labuschagne werk in 'n boekwinkel op dieselfde dorp. Sy droom haar hele lewe lank van 'n loopbaan op die verhoog. Al wat sy wil doen is sing en "perform". Sy is spontaan, lewenslustig, altyd gereed met n grappie of 'n storie en sy is altyd ongeremd. Mariëtte is reg vir haar eerste sangles. Is Dirk? Hierdie kombinasie kan óf 'n resep vir 'n ramp wees óf dalk net wat hulle albei nodig het?
Germandt Geldenhuys (beter bekend as Louis Koster in die gewilde KykNet sepie, Binnelanders) en Je-ani Swiegelaar (beter bekend as Sr Naomi Ferreira in Binnelanders) maak vir die eerste keer saam hulle verskyning op die verhoog in hierdie bittersoet komedie.
Dié produksie beloof om iets te wees wat die gehoor se ore, lagspiere, traankliere en harte sal aanraak.
Kom wees deel van hierdie unieke teater-ervaring waar storie, musiek, stemme en drome saamgeweef word en kom vind uit hoe belangrik dit is om jou eie stem te vind in 'n wêreld wat jou soms wil stilmaak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'