Update
GEORGE NUUS - Mense wil Steve sien, en hy verkoop 'n saal." Só het die bemarker van die kontroversiële Steve Hofmeyr-konsert, Michelle Bruwer, gesê.
Die bekende Afrikaanse sanger tree vanaand (Donderdag 22 Maart) in die stadsaal op vir die bekendstelling van sy nuwe album Skree, ten bate van 'n Christelike skool in George.
Teen Maandagoggend was daar nog net enkele plekke in die stadsaal se galery beskikbaar.
'n Herrie het verlede week losgebars toe die ANC se sekretaris, Faiez Jacobs, in 'n brief aan die burgemeester en die munisipaliteit vra dat George-munisipaliteit hul van Hofmeyr distansieer.
Hofmeyr is 'n kampvegter vir die regte van wit Afrikaners en het al voorheen in die sop beland met sy uitlatings op sosiale media.
Ofskoon die munisipaliteit verlede Donderdag die verhuringskontrak vir die stadsaal beëindig het, het die DA-leiers ter nouer nood ingegryp.
George se munisipale bestuurder, Trevor Botha, het Vrydagmiddag laat weet die konsert kan voortgaan.
Dit volg na Hofmeyr en Jovan Heyns, 'n bekende plaaslike sanger wat vir 'n deel van die konsert saam met hom optree, regshulp ingewin het om die kansellasie teen te staan. In 'n verklaring deur die Wes-Kaapse DA-leier, Bonginkozi Madikizela, het hy die George-munisipaliteit geloof vir hul "beginselvaste besluit in die verband".
Madikizela het gesê alhoewel die DA nie Hofmeyr se politieke standpunte ondersteun nie, is dit belangrik om nie mense te verhoed om in sekere plekke interaktief te wees, soos tydens die apartheids-regering nie.
"Die munisipaliteit het hierdie besluit teruggetrek aangesien dit teen die beginsels van vryheid van assosiasie is, soos vervat in ons Grondwet." Jacobs het op 'n vraag, of die ANC ook sou kapsie maak indien EFF-leier, Julius Malema, die stadsaal sou wou huur, geantwoord dat sy party rassisme van alle oorde sal beveg en veroordeel.
"Munisipale fasiliteite moet nie gebruik word deur diegene wat duidelik 'n rassistiese agenda het nie. Die ANC moedig die George-gemeenskappe aan om persoonlikhede soos Steve Hofmeyr, wat 'n rassistiese agenda wil bevorder, openbaar te maak. Ons moet brûe van vertroue en samewerking bou," het Jacobs gesê.
Skool benodig fondse, 'nie drama'
Ofskoon die naam van die skool waarvoor die fondsinsameling gehou word aan die George Herald bekend is, wil die skool duidelik nie hul naam aan die groot klok hang nie. Die skool het aan die George Herald sowel as 'n joernalis van 'n Kaapse dagblad ontken dat die konsert ten bate van hulle gehou word.
Bruwer het egter verduidelik dat dit 'n veelrassige-skool is en nie hul naam met 'n politieke drama wil verbind nie.
"Die skool moes onlangs skuif en die fondse gaan gebruik word om vloere en plafonne vir nuwe klaskamers te bou," het sy gesê. "Ons is net bly dit kan aangaan, mense kyk eintlik die hele doel van die konsert mis. Die gemeenskap staan nou juis sterk."
Bruwer het bevestig dat daar geen kansellasies weens die beriggewing was nie.
Hofmeyr se agent, Leeza Mulder, het nie op navrae gereageer nie en sy kon nie per selfoon bereik word nie.
Hofmeyr se kommentaar is egter deur Heyns op sosiale media versprei, waarin hy vryheid van spraak onderskraag:
"Ek is g'n politikus nie. My kontrak as digter, met George en Suid-Afrika, is om my mense te hoor. Om die digter te wees wat sing oor wat hulle pla. Om te mag prys en te mag kritiseer in 'n vry samelewing. As jy nie vreesloos kan staan voor die onderdrukkers van jou mense nie, is jy nie die naam "kunstenaar" werd nie.
"Dieselfde regering wat die krete van sy bruin en wit mense eenvoudig ignoreer, kon altyd op hul kunstenaars vertrou om dit te verwoord en hulle wanhoop stem te gee. Mense kom nie na my konsert vir politiek nie. Hulle kom om te hoor of hulle nog mag bestaan."
Lees 'n vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'