Snyman sê besoekers kan uitsien na bekende stemme, geharde stemme en nuwe stemme by die jaarlikse fees van 29 Maart tot 5 April.
Die bekendstelling, wat gewoonlik in Kaapstad plaasvind, is hierdie jaar in die Kango-grotte net buite Oudtshoorn gehou en die Suid-Afrikaanse sopraan Friedel Mitas wat van Oudtshoorn kom, sanger Jannie Moolman, die Ad Astra-koor van Hoërskool Outeniqua en die plaaslike stemkunstenaar, Marlo Minnaar het die gehoor betower.
Die Absa KKNK bied vanjaar 22 nuwe tekste en vyf nuwe vertalings/verwerkings van internasionale toneelstukke. In visuele kuns word drie feeskunstenaars vereer. Onder die ongeveer 150 aanbiedings op die program is meer as 50 debuutproduksies.
Die fees sien 20 komedies, 'n verskeidenheid klassieke en kontemporêre musiek met vars kombinasies van gevestigde kunstenaars en belowende nuwe talent.
Vanjaar se drie feeskunstenaars is: Gordon Froud met sy uitstalling, A retrospective of exhibitions I never had, Louis Jansen van Vuuren met Oogwink – 'n kunstenaarsblik en Willem Boshoff met sy uitstalling Big Druid in his cubicle.
Die Absa KKNK Bravo!-bal skop die fees af en dien as fondsinsameling vir die Teaterbystandsfonds. 'n Hardeband-gedenkboek, saamgestel deur Ilza Roggeband, Anet Pienaar-Vosloo en Karen Meiring word tydens die bal bekendgestel en sal by die fees te koop wees.
Kinders jonger as 15, wat deur 'n ouer vergesel word, kry gratis toegang tot die Rivierbuurt en teen R120 vir die volle week se vermaak, is die Rivierbuurt 'n wonderlike uitkoms vir benoude begrotings. Die Rivierbuurt huisves die kykNET-musiekverhoog, waar die gewilde Son Top 40-program saans sal speel. Sowat 400 stalletjies, lekkerbek proe-ervarings, gratis vermaak vir kinders, 'n pretpark en 'n area vir kampeerders, jagters en buitelewe-entoesiaste is op die spyskaart.
Kaartjies is beskikbaar by Shoprite/Checkers of Computicket by www.computicket.com.
George Herald-redakteur, Ilse Schoonraad en restaurateur Gerbie klink 'n glasie vonkelwyn tydens 'n piekniekstop onderweg na die Kango-grotte. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'