GEORGE VERMAAK NUUS - Het julle al gewonder hoe klink 'n olifant, 'n leeu of 'n swaan as hulle in musiek beskryf word?
Op Woensdag 19 Mei word die Karnaval van die Diere van Saint-Saëns op twee klaviere deur die pianiste Dalene Brits en Kaléne Roux uitgevoer.
Die werk bestaan uit veertien dele (sommige baie kort) waarin hoofsaaklik diere beskryf word.
Die klankbeelde word verhelder deur woordbeelde van die digter Phillip de Vos, wat tussen die musiekdele voorgedra word deur Buks Gericke. Dalene Brits het van hierdie gediggies getoonset en dit word ook deur Buks gesing, en dra die titel 'n Tikkie Stout vir bariton en klavier.
Die publiek kan dus uitsien na 'n besonderse program wat beslis anders as die gewone musiekkonsert sal wees.
Die konsert begin om 13:10 in die Moederkerk, George. Toegang is gratis, maar donasies is welkom. Bring u masker saam.
Hoewel hierdie konsert die laaste herfskonsert van die reeks vanjaar sal wees, word 'n galakonsert op Maandagaand, 24 Mei, om 18:00 in die Moederkerk gehou.
Daarin sal 'n keur uit die konsertreeks aangebied word. Dit sal mense wat nie bedags kon kom nie of nie al die konserte kon bywoon nie, die geleentheid gee om 'n keur uit die herfsreeks te geniet.
Bariton Buks Gericke sal reg laat geskied aan 'n Tikkie Stout, toonsettings wat deur Dalene Brits van Phillip de Vos se gediggies gemaak is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'