GEORGE NUUS - Twee skilders van die Suid-Afrikaanse vereniging van Mond- en Voetskildersvereniging, Rudy Lombard en Patrick Botto neem vanjaar deel aan die jaarlikse kompetisie van die South Cape Association for Visual Artists (Scava). Dit is die eerste keer dat hulle deelneem.
Daar word meegeding in sewe afdelings wat byvoorbeeld insluit, landskap, portrette, diere/wildlewe en abstrak. In elke afdeling is daar 'n eerste, tweede en derde prys. Die totale prysgeld in elke afdeling beloop R2 000.
Beoordeling het Maandag 5 Augustus by die George-museum plaasgevind.
Die uitstalling open vir die publiek op 10 Augustus. Toegang is gratis en duur tot einde Augustus. Die wenners word op 15 Augustus tydens 'n funksie vir genooide gaste aangekondig. Maura St. John, voorsitter van Scava, het gesê die standaard van inskrywings vanjaar is baie hoog.
'n Rekordgetal inskrywings van kunstenaars en kunswerke is vanjaar ontvang. Enige kunstenaar in die Suid-Kaap in 'n radius van 250 km van George, kon deelneem.
Ouderdomme van kunstenaars wissel tussen 18 en 86 jaar en dit sluit mans en vroue in.
Inskrywings is vanjaar sover as Plettenbergbaai, die middel van die Karoo en Riversdal ontvang.
Volgens haar groei die kompetisie.
Die publiek sal van die kunswerke kan koop, maar dit sal eers na die einde van die uitstalling afgehaal kan word.
Volgens Lombard het die skildery van 'n visarend wat hy ingeskryf het hom sowat twee weke geneem om te voltooi.
Hy skilder al 15 jaar. Lombard gebruik sy mond om die verfkwas vas te hou. Hy is ook kleurblind en maak op sy geheue staat om kleur in 'n skildery te verskaf.
Kuns is vir hom soos 'n ontdekkingsreis. "Jy lê jou siel neer op 'n doek."
Tersia Hoffmann, 'n komiteelid van Scava, Rudy Lombard, kunstenaar en Maura St. John, voorsitter van Scava. Hoffmann hou 'n skildery van Lombard vas en St. John, 'n skildery van Patrick Botto. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'