GEORGE NUUS - Die Suid-Kaapse koorgemeenskap het op 18 en 19 September die geleentheid gehad om by die internasionaal bekende koordeskundige dr. Martin Berger te leer tydens ’n kursus in koorsang en dirigeerkuns.
Berger, wat deeltyds aan die Universiteit Stellenbosch verbonde is en ook internasionaal, veral in Duitsland, werksaam is, se besoek is aangebied onder die beskerming van die Tygerberg International Eisteddfod.
Vrydagaand het Berger ’n meesterklas vir die Eden Camerata-koor onder leiding van Ronell Mentz aangebied. Die fokus was op die teorie en praktyk van goeie koorsang, met aandag aan asemhaling, vokaalvorming, resonansie, diksie en frasering.
Saterdag het ’n dag lange kursus vir koorleiers by Hoërskool Outeniqua gevolg. Koorleiers uit die Suid-Kaap, van beginners tot meer ervare dirigente, het dit bygewoon.
Die doelwitte van koorsang is bespreek, met vokale afrigting en tegniek as grondslag. Aandag is ook gegee aan hoe tegnieke aan koorlede oorgedra en gekorrigeer kan word, waarna dirigeertegniek met demonstrasies en praktiese oefeninge behandel is.
In die middagsessie is die koor van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, onder leiding van Retha van Zyl, as demonstrasiekoor gebruik. Verskillende kooropstellings is getoets om resonansie, eenvormigheid van klank en kontak met die gehoor te verbeter. Berger het ook die Kodály-metode vir bladsing gedemonstreer.
Die kursus het koorsang as ’n vorm van musikale ontwikkeling, sosiale samehorigheid en gemeenskapsbetrokkenheid beklemtoon.
Eden Camerata tree op Saterdag 26 September by die klubhuis van Kraaibosch Country Estate op. Vir meer inligting, kontak Ruben by 082 888 8550.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’