GEORGE VERMAAK NUUS - Eerskomende Woensdag, 9 Oktober, word die voorlaaste program in die huidige reeks etensuurkonserte in die NG Moederkerk aangebied.
Afrikaanse kunsliedere van Lourens Faul, (Noag se Ark), Gerrit Jordaan (Slaapliedere en Kwêlafluit) en Marlene Wessels, word gesing deur soprane Alma Oosthuizen en Lida de Villiers met Gerrit Jordaan as begeleier.
Noag se Ark-siklus bevat liedere met humoristiese klanksketse van diere soos die olifant, seekoei, renoster, dromedaris en kameelperd.
Kwêlafluit is 'n stel liedminiature op tekste van Sheila Cussons. Die gedigte handel oor hoop en ontnugtering. Die Wessels-liedere is verteenwoordigend van haar omvangryke oeuvre. Die insluiting van Wessels se liedere in die program dien terselfdertyd as huldeblyk aan haar in haar tagtigste lewensjaar.
Barbara Raubenheimer begelei een lied op die tjello. Dit beloof om 'n besondere konsert te wees.
Die konsert duur van 13:10 tot 13:50. Toegang is gratis. Donasies is welkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'